Beeld SITES/SERVICES >

Boekmerke

2011-11-06 22:10
Kronkelpad
Irma Joubert
TAFELBERG, R200


Die lewe loop soms vreemde draaie met ’n mens.

So ook met die karakters Lettie Louw en Marco Romanelli van Anderkant Pontenilo en Persomi, die eerste twee boeke in die trilogie waarvan Kronkelpad die derde is.

Lettie, slim maar plomp en met ’n dik bril, en die aantreklike Marco, wat saam met sy Joodse geliefde en haar gesin voor die Nazi’s vlug, speel in die eerste twee boeke ondergeskikte rolle, maar in Kronkelpad word hulle die hoofkarakters om wie Joubert drie stories weef wat oor verskeie dekades strek.

Interessant veral is die agtergrond: die polio- epidemie in die 1950’s waarvan die uitwerking op jongmense veral goed ontgin word en wat Lettie ook op professionele vlak raak.

Soos sy voorgangers, is Kronkelpad ontspannende leesstof met die geskiedenis as stewige werklikheidsbarometer.

Die karakters is warm en menslik. Veral by Lettie, ’n sterk vrou en nie die tipiese popmooi heldin van ’n liefdesverhaal nie, sal lesers aanklank vind.

Kronkelpad bied ’n bevredigende slot vir die trilogie. As bonus eindig dit waar Pontenilo begin het – in die Italiaanse bergdorpie waar die mense so van mooi stories hou. – Adele Dempers

Nineveh
Henrietta Rose-Innes
UMUZI, R163

Dié profetiese roman neem die leser op ’n onheilspellende, dog vermaaklike rit deur die onderbewussyn van die hoofkarakter, Katya Grubbs, ’n getraumatiseerde plaagbeheer- beampte wat voortdurend aan haar verlede en wrede pa probeer ontsnap.

Met lieflike, onkonvensionele beskrywings verweef Rose-Innes die intieme geestestog van Grubbs met haar vasberadenheid om die Nineveh-landgoed net buite Kaapstad pesvry te laat.

Met ’n fyn aanvoeling vir die liggaamlike van die trauma van menswees, en die oortuigende beskrywings van stedelike teenoor ongerepte ruimtes, word Nineveh vermaaklike, dog boeiende swaargewig-leesstof. – Jonathan Ahmed

The Pale King
David Foster Wallace
HAMISH HAMILTON, R190


Die Amerikaanse skrywer David Foster Wallace se laaste, onvoltooide roman handel oor die onwaarskynlikste onderwerp: verveling.

Dit speel af in die kantore van die Internal Revenue Service, waar duisende “agente” opgawes deursoek vir belastingontduikers. In een kort hoofstuk is al handeling die bladsye wat omgeblaai word.

Wallace beskryf die versmorende burokrasie en werknemers se intriges en okkultiese talente (levitasie, woorde tel wanneer mense praat) in ’n speelse, gedronge styl met ironiese voetnote wat die leser uitdaag, frustreer, prikkel en vermaak.

Wallace was self die bleek koning van eksperimentele prosa.

Salman Rushdie meld in Time Magazine dat hy dié boek vir ’n spesiale bederf bêre.

Bly weg as jy blitsverkopers verkies, maar soos met Wallace se ander raaiselagtige verbeeldingsvlugte (Infinite Jest) is die beloning ryk vir geduldige lesers. – Schalk Schoombie

More Stories in Boeke

«Back