Beeld SITES/SERVICES >

Deur ’n ander lens

2011-05-14 06:01
Dit is vroegherfs wanneer ek Mavis Mthandeki weer sien – sewentien jaar ná die uitstalling Photo Works by Women. Ons sit in die leefvertrek van haar huis in Joe Modise-straat op die Kaapse Vlakte. Oggendlig filter deur okergeel gordyne met ’n plantmotief van wit garing. Teen ’n muur hang ’n prent wat her- inner aan Shangri-La, maar ek sukkel om detail in die klein foto’s op die fotografiese kontakvelle van haar werk raak te sien.

Mavis se dogter, Noma Afrika Nicolette, bring ’n vergrootglas. Stadig word verskeie foto’s wat destyds deel was van die 1994- uitstalling, weer in fokus gebring: ’n vrou wat na regs uit die foto beur, ’n bejaarde egpaar wat teen ’n muur sit, ’n stillewe van ’n emmer, gassilinder en skinkbord.

Mavis en ’n vriendin, Primrose Talakumeni, het in die vroeë negentigerjare by die Community Arts Project in Woodstock in Kaapstad fotografieklasse begin neem. Hul gesamentlike dokumentering van die onderwerpe wat hulle gefotografeer het, was soos metaforiese dubbelbeligting: ’n Mens was nie altyd seker na watter een van die twee se werk jy kyk nie.

Die twee se coup d’oeil het as aansporing gedien vir vrouefotograwe uit ’n voorheen benadeelde gemeenskap, en hul werk was ’n vonds vir oorsese kurators met ’n aptyt vir regstellende kunsprojekte uit ons ontwakende demokrasie.

Maar die illusie van ’n utopie het intussen hier plek gemaak vir ’n spreekwoordelike Brave New World en ’n nuwe generasie foto- werkers wat grense voortdurend versit. Daarmee saam het digitale tegnologie ’n demokratisering van fotografie teweeg gebring, en goedkoper digitale kameras maak dit vir meer mense moontlik om met die medium te eksperimenteer. Die kunsvorm behoort nie meer net aan dié wat hul dae in donkerkamers deurbring nie.

Uit die groep van veertien fotograwe wat in September 1994 deelgeneem het aan die Photo Works by Women-uitstalling in die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging (vandag die AVA in Kerkstraat in Kaapstad), is ongeveer die helfte steeds betrokke by die medium. Karina Turok het in 2007 ’n fotoboek gepubliseer met die titel Life and Soul – Portraits of Women who Move South Africa, Riana Vogel bestuur ’n kommersiële fotopraktyk, Ruth Motau is ’n persfotograaf en Jean Brundrit is ’n senior lektor in fotografie aan die Michaelis-kunsskool in Kaapstad.

In Lens – Fractions of Contemporary Photography and Video in South Africa, ’n nuwe fotografie-uitstalling wat vandeesweek by die Universiteit Stellenbosch se Sasol-kunsmuseum in dié dorp geopen is, word ’n nuwe generasie baanbrekers se werk tans uitgestal: Carla Liesching, Zanele Muholi, Jo Ractliffe, Dineo Seshee Bopape en Svea Josephy is van die vrouefotograwe wie se werk ’n nuwe ruimte vir die vroulike perspektief skep. Benewens dié kunstenaars wie se werk by Lens te sien is, is daar ook ander vrouepioniers soos Jean Brundrit en Nomusa Makhubu. (Sien die foto’s hiernaas vir al die fotograwe se werk.)

Hul werk eggo die woorde van die kunskritikus Brenda Atkinson, soos vervat in die katalogus vir Ractliffe se werk: “Photography occupies a beautifully, maddeningly awkward space between otherness and the real. Between art and documentary journalism.”

Maar hoewel vrouefotograwe – en die vroulike perspektief – die kunsvorm toenemend eien, beteken dit nie manlike dominansie is in dié genre iets van die verlede nie...

“Die rol van vrouefotograwe is toenemend toonaangewend in hul ondersoek na estetiese en teoretiese kwessies – in die eksperimentering met radikaal nuwe tegnieke en installasiemetodes, sowel as in die aanbieding (daar- van), wat gevolglik ’n wysiging van idees en persepsies kan bring oor wat fotografie is en wat dit beteken,” het Marilyn Martin, voormalige direkteur van die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad, gesê toe sy die kurator was van die Securing Shadows-afdeling in die uitstalling Lines of Sight in 1999.

Maar dit blyk manlike fotograwe oorheers steeds die medium. Wanneer ek Pam Warne, kurator van fotografie en nuwe media vir die Iziko-kunsversameling, besoek, word daar vir die tweede keer by hierdie instelling erkenning verleen aan Ernest Cole, ’n Suid-Afrikaanse fotograaf wat teen die einde van sy lewe in 1990 ’n ontheemde in Manhattan was. Elders in die museum dwaal besoekers deur die werk van Roger Ballen, en ’n klipgooi verder, by die Suid-Afrikaanse Joodse Museum, word die David Goldblatt-tentoonstelling Kith, Kin and Khaya aangebied.

Sy was verbaas toe ’n Duitse kurator die oorwegend konseptuele werk van vrouefotograwe relatief onlangs instinktief in een saal geplaas het teenoor die meer dokumentêre fotografie van mansfotograwe in ’n ander saal, vertel Warne.

Dié uitstalling is in 2007 in Duitsland gehou en in 2008 by die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad herhaal. Die skeiding tussen manlike en vroulike fotograwe het ook die Duitse kunshistorikus Lisa Schmidt opgeval: “Dit is interessant dat al die vrouekunstenaars by die tweede kamer ingesluit word; die kamer stal meestal werk ten toon wat nie volgens land gekategoriseer kan word nie.”

Suid-Afrikaanse fotografie trek al hoe meer aandag: Benewens dié Duitse uitstalling was daar die afgelope paar jaar ’n aansienlike aantal internasionale tentoonstellings met Suid-Afrikaanse fotokartering as klem: Snap Judgements – New Positions in Contemporary South African Photography (2006) en Darkroom (2010) in Amerika, Figures & Fictions – Contemporary South African Photography, tans te sien in Londen, en Ars 11, wat in Junie vanjaar in Finland aangebied word.

Sowel die Bamako Encounters-uitstalling wat sedert 1994 tweejaarliks in Mali plaasvind, as die Cape Town Month of Photography, wat in 1999 deur Geoff Grundlingh van stapel gestuur is, beoog om besoekende oorsese kurators uit te daag en hulle anders te laat kyk na fotografie in die konteks van Afrika.

Want dit bly ’n uitdaging om ontslae te raak van beelde wat stereotipes voortsit. “Internasionale kurators is selde geïnteresseerd in persoonlike kwessies, wat grotendeels die terrein van vrouefotograwe blyk te wees, en streef steeds eerder na die eksotiese argetipe of stereotipe van die kontinent,” sê die kunshandelaar Heidi Erdmann by haar huis in Tamboerskloof.
Erdmann het die konsep van ’n toegewyde fotografiegalery in Suid-Afrika gevestig en dié galery, The Photographer’s Gallery, is ná meer as ’n dekade steeds staande, selfs al het die resessie hoeveel ander galerye laat vou.

Erdmann en haar mede-kurator, Jacob Lebeko, was verantwoordelik vir die uitstalling Construct – Beyond the Documentary Photograph wat in 2008 by die Unisa-kunsgalery, die Grahamstadse kunstefees en die Goethe-instituut in Johannesburg te sien was. Vir haar projek The Living Archive, wat deel sal vorm van Ars 11, konsentreer sy op die werk van vrouefotograwe.

Sy sê plaaslike fotografie word deur ’n broederskap beheer, en sy ervaar die bedryf as giftig; ’n mynveld van kunsburokrate wat die speelveld met venyn manipuleer en ondermyn. “Ek sou dit problematies vind om te sê die bedryf is geslagloos. Dit het begin as male heavy, en dit het so gebly ..."

Dis nie net kurators wat hiervoor aanspreeklik is nie, sê Erdmann, ook fotograwe, die verskaffers, hou die heersende orde soms in stand. “Ten spyte hiervan vind alternatiewe beeldmateriaal wel ’n heenkome, en is dit veral plaaslike kurators wat ’n meer uitdagende koers vir fotografie prakseer.”

Waar plaaslike fotograwe die medium voor 1994 aangewend het om protes aan te teken teen die gruwels en ongeregtighede van apartheid, het die lens se sluiter van verset nou transformeer, sê Martin. Veral dokumentêre fotografie kyk deesdae eerder na die impak van kwessies soos korrupsie, armoede, MIV/vigs, ensovoorts.

Maar dít gaan dikwels steeds gepaard met ’n “nuwe etnografie”, maan sy – die uitbeelding van die Ander in foto’s is steeds gereeld stereotiperend en oorvereenvoudigend.

En tog is daar tekens dat dit kan verander. Brundrit meen Suid-Afrikaanse fotografie kon sedert 1994 hoofsaaklik weens tegniese redes transformeer: Die digitale era maak dit moontlik om anders met die medium te werk te gaan, en die medium is nou meer inklusief.

(Terselfdertyd is sy besorg dat die toekoms van pinhole-fotografie in die gedrang is. Dié vorm word al dekades lank gebruik om studente te leer om foto’s te neem, en dit maak gebruik van handgemaakte kameras van blikkies of karton. Weens die koste van die papier wat gebruik word tydens die ontwikkelingsproses van dié foto’s, kan die klassieke metode ’n knou toegedien word.)

Volgens Brundrit het universele parallelle in die werk van oorsese en plaaslike fotograwe ook aan plaaslike fotografie die erkenning en bevryding gebring wat dit vandag ervaar. Haar werk stem byvoorbeeld ooreen met dié van die Amerikaanse fotograaf Cindy Sherman – onderwerp, tegniek, metode of styl eerder as gender of landsgrense bepaal die konteks waarin dit gelees kan word.

Neem die versamelwaarde van plaaslike fotografie toe? Daar ís uitdagings, sê Erdmann: Die beskikbaarheid van afdrukke is nie konsekwent nie, sommige korporatiewe kunsadviseurs is halsstarrig en weier om fotografie vir groot versamelings aan te skaf.

Maar ’n groeiende kliek sielsgenote koop wel fotografie, en progressiewe maatskappye en openbare versamelings soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Kuns- museum, die Johannesburgse Kunsgalery en die Nelson Man- dela Metropolitaanse Museum verwelkom ook die medium.

Dit is juis daarom dat Martin glo kurators en kunstenaars moet aanhou eksperimenteer en grense steeds verder versit. Sy vind weerklank in die woorde van die Amerikaanse kunshistorikus Kirk Varnedoe: “It is better to commit the sin of commission than that of omission”.

More Stories in By

«Back