
Verset is nie iets wat ge-Tweet word nie; ’n rewolusie is nie iets wat op Facebook plaasvind nie. Want hoewel die sosiale media ’n karakter geword het in die onlangse opstande in Tunisië en Egipte, is ware weerstand eintlik iets anders, skryf
IRMA DU PLESSIS.
Rewolusies word nie ge-Tweet nie, het Malcolm Gladwell, die sosiale ontleder en skrywer van onder meer
The Tipping Point, Blink en
Outliers nog in Oktober verlede jaar in
The New Yorker geskryf.
Indien iemand dít tog net vir die arme apteekassistent van Springs gesê het voordat sy haar gesin in die vroeë oggendure van Februarie 2007 in die kar geboender het om die hasepad na die Spar op Heilbron te kies.
Sy het kort tevore die Suidlanders se DVD oor die sogenaamde nag van die lang messe (waartydens wit Suid-Afrikaners glo uitgeroei sou word) gekyk. Toe sy dus die SMS ontvang wat sê oudpres. Nelson Mandela is in ’n koma en dat iemand by die Heilbron Spar haar na ’n plek van veiligheid sal begelei, het sy geweet dis sulke tyd. Sy en die ander uitgewekenes in Heilbron se woonwapark het ’n droewige nag deurgebring terwyl hulle op die onvermydelike gewag het. Teen die tyd wat sy besef het Mandela is springlewendig, was sy haar werk kwyt omdat sy sonder verlof op die vlug geslaan het.
Maar was die einste apteekassistent uiteindelik meer in voeling met die
zeitgeist as Malcolm Gladwell?
Sedert Tunisië se voormalige diktator en sy uitgebreide gesin hulle haas oornag in Saoedi-Arabië bevind en Egipte in die ligte laaie van populêre opstand opgaan, lyk dinge ietwat anders. Daar is ’n gespannenheid in China en Jemen en Libië, terwyl YouTube, WikiLeaks, Facebook, Google en Twitter opduik as die agente van vernuwing in amper alle beriggewing oor wat lyk soos grensverskuiwende gebeure in die Arabiese wêreld.
Het Gladwell dus die ondenk-bare gedoen en, by wyse van spreke, in ’n oogwenk ’n kritieke oorhelpunt misgekyk?
Verset, het Gladwell gesê, moenie so vinnig as Twitter-rewolusies beskryf word nie. Want selfs ’n klompie Twitter-swaeltjies maak nie ’n somer nie. Dít teen die agtergrond van die protesoptogte in Moldawië in Maart 2009 en die relatief kortstondige, maar grootskaalse verset teen die verkiesing van president Ahmadinejad in Iran dieselfde jaar. Van die oorspronklike protes in Moldawië het daar dadels gekom, en iemand wat die Irannese wil mobiliseer, gaan dit nie in Engels deur Twitter doen nie.
Natuurlik onderlê sosiale netwerk-mediaplatforms nie alle vorme van aktivisme nie. Hoe anders verduidelik ’n mens die rol van groepe en massas mense in die geskiedenis: die pogroms in Rusland, Gandhi se nie-gewelddadige verset, die menseslagting in Rwanda, die gepeupel se bestorming van die Bastille? Dit het alles sonder die teenwoordigheid van die sosiale netwerk-media gebeur.
Maar Gladwell reken sosiale media het ook nie die basiese aard van aktivisme verander nie. In 1960, skryf hy, gaan sit ’n klein groepie swart studente in Amerika op die sitplekke in ’n restaurant wat slegs vir wit mense gereserveer is. (Daar’s wel ’n toonbank waar swart mense al staande gehelp kan word!) Die studente dring daarop aan om bedien te word – en bly sit totdat die groep binne ’n paar dae tot meer as 600 groei. En dan begin swart en wit studente in ander stede en dorpe dieselfde doen ...
Hoe verduidelik ’n mens andersins die soort gebeure wat aanleiding gegee het tot die burgerregte-beweging in Amerika? ’n Vrou weier om op te staan in ’n bus, en dít verander alles.
Met ander woorde, verset begin plaaslik, deur regte mense, op klein skaal. Met hul aksies, spreek hulle plaaslike vorme van onderdrukking aan en kies hulle uit bestaande vorme van verset. Uiteindelik brei verset, aldus Gladwell, op ’n organiese wyse uit – dit word ’n aansteeklike, koorsagtige gees.
Daar is dus iets soos ’n tydsgees. Dan volg daar gebeure wat as sneller dien. ’n Enkeling of ’n groep mense tree op, en sodoende word ’n spesifieke repertorium van weerstand gevestig. (Die keuse van die vorm van weerstand het dikwels ’n lang geskiedenis.) Sodra die gebeure uitgespeel het, is dit beskikbaar vir ander om dit te herhaal.
Ditto die Soweto-skoolopstande van 1976 wat soos ’n veldbrand oor die land versprei het totdat skoolkinders in bykans elke township begin deelneem het. Boonop, soos die historiese sosioloog Jon Hyslop uitgewys het, was daar groot ooreenkomste tussen die vorm van die skoolopstande in 1976 en die vroeëre skoolopstande in die sendingskole van die Oos-Kaap, soos Lovedale. Sekere van die vorme van weerstand wat deesdae in sogenaamde protesaksies teen swak dienslewering opduik, kan selfs moontlik nagetrek word na die Lovedale- en Healdtown- protesaksies. Gandhi se nie-gewelddadige verset het nie uit die niet verskyn nie, maar is gebaseer op die herinterpretasie van ’n tradisie wat reeds bestaan het.
Maar ’n mens moet ook iets van Amerikaanse nasionalisme verstaan om te begryp waarom Gladwell so louwarm is oor die potensiaal van die sosiale media. Wanneer ’n geografiese gebied, ’n staat, maatskappye en mense so nou verweef raak in ’n enkele, allesomvattende identiteit, sou die beskrywing van die onlangse gebeure in die Arabiese wêreld as ’n Twitter-rewolusie so goed wees soos om te sê:
Made in America.
En dis ten dele waarteen Gladwell skryf. ’n Rampspoedige oorlog in Irak en ’n uitgerekte gemors in Afganistan het die Amerikaanse gemoed geknou. Om Tunisië as ’n Amerikaanse oorwinning te eien, is goed vir die moraal en bevestig wat elke jingoïstiese Amerikaner reeds weet – vryheid is eintlik ’n Amerikaanse waarde. Dit is juis hierdie soort patriotiese, imperialistiese chauvinisme wat verandering rem in plekke wat as “nie-Westers” beskryf word.
’n Verdere probleem is dat die klem op die sosiale media die skakels tussen die sogenaamde nuwe media en ouer mediavorme oorskadu. Die rol wat Al Jazeera gespeel het in die gebeure in Tunisië en Egipte is daarom belangrik.
Die wonderlike ironie is natuurlik dat groei in die statuur en belangrikheid van dié televisie-netwerk juis die gevolg was van die noodsaak om Amerikaanse en Britse propaganda teë te werk deur meer geloofwaardige verslaggewing – en nou word daardie blik na binne gekeer.
Tog voel dit asof Gladwell die besondere potensiaal van die media (nuut en oud) onderskat. Hy skryf nie soos iemand wat al aan eie lyf beleef het hoe ’n inligtingswitwaas voel nie. Anders as, byvoorbeeld, Suid-Afrikaners tydens apartheid en Noord-Koreane vandag, weet hy dalk nie presies watter soort fantastiese werklikhede geskep kan word in lande waar outoritêre regerings beheer toepas oor media-kanale nie – dikwels met die toestemming en hulp van plaaslike elites wat skep terwyl dit pap reën en van patriotiese volgelinge wat self in die fantasie glo.
Dit is moontlik om veertig jaar lank in ’n land te woon wat grootliks op fiksie gegrond is. ’n Plek waar ambassadeurs verwelkom word van lande wat nie bestaan nie. Waar die ANC, die kommuniste en die New Age-beweging nie onderskeibaar van mekaar is nie. Waar televisie tot 1976 nie toegelaat is nie.
Soos die einste Jonathan Hyslop destyds geskryf het: Die uitsaai van die
Cosby Show het begin om die fantasie van Amerika onwerklik te laat lyk.
Selfs al is die sosiale media en ander mediavorme dikwels niks anders nie as vebruikersgerigte vermaak, en selfs al is dit daarop ingestel om tyd op ’n plesierige wyse te verdryf eerder as om dinge te verander, het hierdie vorme ’n eie logika wat talle nuwe vorme van verset en nuwe vorme van konneksie tussen mense moontlik maak. Die diversiteit en veelheid van mediavorme en die platforms waarop dit funksioneer, stel individue toenemend in staat om uit die propaganda-spiraal te ontsnap.
Maar Twitter (of Facebook of YouTube) is nie ’n agent nie. Dit is – soos baie ander teks- en beeld-gebaseerde platforms – ’n medium. Dis nie inherent betroubaar nie – nie wat betref die inligting nie (vra die apteekassistent van Springs), maar ook nie wat betref die platform nie. In China is Google en ander mediamaatskappye gewillig om te help met sensuur. Soms, soos met die onlangse protesoptrede in Mosambiek, is selfoonmaatskappye bereid om dienste op te skort op die aandrang van die regering. In Amerika is ernstige druk op maatskappye geplaas wat WikiLeaks steun.
Soms is hierdie ingrepe gewens; soms nie. Maar hierdie platforms is nooit onder demokratiese beheer nie. Dis nie inherent vry nie en dit is hoegenaamd nie in beginsel verbind tot regverdigheid nie. Ons was seker nog nooit tevore so vrywillig onderwerp aan soveel konstante elektroniese toesig en beheer nie.
Boonop maak die sosiale media werklike verset nie makliker nie. Soos wat die studente op die Tiananmen-plein, die betogers by Sharpeville, die stakers op die Brixton-rif toe Smuts se regering die bomme laat val, die 1914-rebelle, die skoolkinders van Soweto en hul leier, Tsietsi Mashanini, sou kon sê: Verset behels jou eie lyf; dis vlees en bloed.
- Irma du Plessis is ’n lektor in die departement sosiologie aan die Universiteit van Pretoria.

Die strate van Kaïro lyk soos Suid-Afrika in die 80’s sedert miljoene Egiptenare in opstand gekom het teen die regering van pres. Hosni Moebarak. Foto: REUTERS