Share

Van ‘ken jouself’ na ‘bemark jouself’

Toe 5 000 sielkundiges van 80 lande verlede week in Kaapstad vir die eerste Internasionale Sielkundekongres in Afrika vergader het, is Desmond Painter getref deur hoe ingrypend ons begrip van “die self” verander het in die moderne sielkunde met sy klem op entrepreneurskap.

In 1909 het Sigmund Freud sy eerste en enigste reis na die VSA onderneem om ’n reeks inleidende lesings oor die psigoanalise by die Clark-universiteit in Massachusetts te lewer. Dit was ’n deurslaggewende kulturele gebeurtenis. Freud se Amerikaanse lesings het nie net die internasionalisering van die psigoanalise aangekondig nie, maar ook die globalisering van ’n moderne, post-tradisionele opvatting van die self ingelei.

Ná Freud het alles vir ons verander. Ons sou nooit weer met dieselfde oë kyk na ouer-kind-verhoudings en die emosionele dramas van selfs ’n doodgewone gesinslewe nie. Geen droom of selfs net ’n verspreking (die “Freudian slip”) sou weer vir ons onskuldig wees nie. Die alledaagse lewe, van die banale tot die sublieme, is deur Freud en die psigoanalise onderwerp aan ’n sielkundige logika. Oor alles hou die onbewuste met sy (of is dit háár?) donker begeertes wag...

Freud het dit as sy taak geag om die ego se moeilike stryd om selfverwesenliking in die voue van alledaagse taal bloot te lê. In die proses het hy geboorte help gee aan ’n woordeskat, ’n reeks tegnieke (veral psigoterapie) en ’n leërskare sielkundige praktisyns. Skaars ’n eeu gelede was dit ’n revolusionêre proses; vandag kan ons die wêreld, en onsself, nouliks meer sonder die sielkunde begryp.

Sedert Freud het die self ’n industrie geword: ’n objek van kennis, ’n teiken vir regulerende en normaliserende intervensies en uiteindelik ’n kommoditeit in ’n kapitalistiese stelsel. Dit is lankal nie meer net ons liggame en spesifieke vaardighede wat as arbeid ontgin word nie, maar ons sielkundige kwaliteite as sodanig: ons persoonlikheidstrekke, ons kommunikasievaardighede, ons vermoë om empatie te toon of stres te verduur, word verhandelbaar en bestuur as “menslike hulpbronne”. Die 20ste eeu kan tereg “die eeu van die self” genoem word.

Geen wonder nie dat Freud, kort voordat hy in September 1909 in New York aan wal ge­stap het, aan sy reisgenoot Carl Jung gesê het: “Hulle weet dit nie, maar ons bring die plaag...”

...

Freud se opmerking het verlede Maandagoggend by my begin spook toe ek douvoordag in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum in die ry staan om my kongressak, program en naamplaatjie by die registrasietoonbank te kry. Kaapstad is ingeneem deur meer as 5 000 sielkundiges van oor die wêreld heen, ’n kosmopolitiese mengelmoes van akademici, praktisyns en hoopvolle studente. 

’n Sielkudde! ’n Horde sielskunniges! So fluister ek vir ’n afvallige kameraad terwyl ons met ons naamplaatjies om ons nek en ons neus in ’n programboekie staan en koffie drink voor die aanvang van die eerste referate.

Want afvallig of nie, ons is hier om die grootste sielkundegebeurtenis tot nóg toe in hierdie geweste by te woon. Dit is immers die eerste keer in die geskiedenis van die dissipline dat die International Union of Psychological Sciences (IUPS) se kongres, die International Congress of Psychology (ICP), in Afrika aangebied word.

Die ICP is ’n bietjie soos ’n wêreldbekertoernooi vir sielkunde.

Dit word elke vier jaar aangebied en lande ding met mekaar mee om gasheer te speel. Daar is nou wel nie medaljes te wen nie, maar die kongres bied die gasheerland ’n unieke geleentheid om plaaslike sielkunde en sielkundiges internasionale blootstelling te gee. Terselfdertyd bevorder die kongres die IUPS se oorhoofse missie: die internasiona- lisering van die sielkunde.

Vandag is die psigoanalise natuurlik lankal nie meer die dominante paradigma in die sielkunde nie. Freud se naam word in net één titel uit al die duisende referate genoem. Jung s’n in twee.

Die psigoanalise as sodanig word in net 11 titels genoem. Die historikus Russel Jacoby beskryf hierdie verskuiwing in die sielkunde goed: “For decades psychoanalysis prospered as psychiatrists embraced it, but more recently the doctors have moved on. Psychoanalysis was too slow, too expen­sive, too uncertain, and too unscien­tific. Along with academic psychologists, psychiatrists adopted chemical, behavioural, and pharmaceutical ap- proaches.”

Gedragsmasjiene. Inligtingsverwerkers. Neurochemiese sisteme.

Hierdie, eerder as die psigoanalitiese onbewuste, het oor die laaste eeu gedien as opeenvolgende metafore vir die self – ’n vervreemdende taal wat ’n mens soms nogal laat verlang na die kolkende dieptes van Freud se verbeelding. Eerder as begeerte is dit kondisionering, kognitiewe strukture en neurologiese prosesse wat sedertdien gebruik word om die self aan sigself te verduidelik; om die self in die konteks van verhoudings, werk, verbruik en die burgerlike lewe te normaliseer en te bestuur.

Onderliggend aan die sielkunde se begeerte om sigself konseptueel en metodologies op die natuurwetenskappe te skoei, is ’n historiese verhouding tussen sielkundige kennis, sielkundige intervensies en die normalisering van individue in die liberaal- demokratiese, kapitalistiese samelewings van die moderne era.

Sielkundiges het hul dienste gelegitimeer as wetenskap, van meet af aan aangebied as funksionarisse van die moderne staat. Hulle het gehelp om individue aanpasbaar en rasioneel bestuurbaar te maak in instellings soos die skool en die fabriek. Hulle het die terrein van die gesin gekoloniseer en private aangeleenthede soos intieme verhoudings en kinderopvoeding toenemend in sielkundige terme beskryf. Uiteindelik het elkeen van ons ons eie sielkundige geword. Dit is immers grootliks in sielkundige terme dat ons ons funksionering as individue beskou, ons verhoudings bestuur en ons “groei” beoordeel. Dat ons onsself weeg en te lig te bevind. Dat ons bly “werk” aan onsself.

Ondanks die marginalisering van die psigoanalise is Freud se opmerking oor die plaag dus steeds relevant. Die inhoud en metodologie van die hoofstroomsielkunde mag verander het, maar die logika bly dieselfde. Die doelwit van die sielkunde is steeds die standaardisering en rasionalisering van kognisie, emosie en gedrag. Die dryfveer is steeds die soeke na ’n kaart vir die landskap van die self, een wat menslike subjektiwiteit volmaak sal objektiveer en sodoende voorspelbaar en beheerbaar maak.

In die vroeë dekades van die 20ste eeu is hierdie kaart van die self deur middel van die tegnieke van vrye assosiasie en introspeksie geskets.

Later het sielkundiges gebruik begin maak van gestruktureerde waarnemings en gestandaardiseerde vraelyste om die koördinate van die self vas te lê.

Vandag is dit by uitstek die breinskandering, daardie veelkleurige voorstellings van neurologiese prosesse, wat aangebied word as die finale kartering van die self.

Jy is veronderstel om na ’n tweedimensionele voorstelling van jou brein in geel, rooi en blou te kyk en te sê: Daar is ék...

Jy kan die kongrestema nie juis miskyk nie; dit staan voor op die program geskryf: “Psychology Serving Humanity.” Terwyl ons in ’n ry staan om ’n peperduur Thai Beef Wrap vir middagete te koop, wonder my afvallige kameraad presies wát dit is wat die sielkunde bedien. Beslis nie gratis kos nie!

Ek antwoord hom nie dadelik nie. Ek is te besig om in die program te soek na iets om by te woon, iets wat my sal herinner dat die wêreld inderdaad bestaan, dat daar buite die teoretiese abstraksies van die kognitiewe en neurochemiese self ook ’n wêreld van armoede en onderdrukking, van weerstand en bevryding is.

Belangriker nog, dat bevryding meer kan en behóórt te beteken as bloot sielkundige sélfverwesenliking.

Want al verteenwoordig die deelnemers meer as 80 lande en bring hulle ’n Babelse verwarring tale met hulle saam, gebruik die oorgrote meerderheid ’n geykte, skynbaar amper volmaak geglobaliseerde sielkundige woordeskat. ’n Woordeskat wat nogtans deurspek is van spesifieke, veral Euro-Amerikaanse kulturele en politieke aannames; ’n woordeskat wat sorg dat die sielkunde se produktiewe, diensbare verhouding met die imperiale uitbreiding van die liberale demokrasie en kapitalisme nie onderbreek word nie.

’n Samesweringsteorie? Ek glo nie. Ek het ná 25 titels met die woord “entrepreneurskap” in opgehou tel. Tog het die begrippe “neoliberalisme” en “kapitalisme” in net één titel tussen al die referate ’n verskyning gemaak.

Beteken dit dat sielkundiges blind is vir die kontekste waarin hulle werk? Dat hulle gewoon maar net te gemaklik burgerlik is om bewus te wees van die strukturele kondisies wat ongelykhede wêreldwyd reproduseer, wat die mens reduseer tot, in die woorde van Karl Marx, “a debased, forsaken, contemptible being forced into servitude”?

Nee, so besluit ek en my afvallige kameraad terwyl ons buite in die winterson stokkiesdraai, sielkundiges is absoluut bewus van die kontekste waarin hulle werk. Hulle begryp die eise van die neoliberalisme en die kapitalisme maar te goed en hulle is gretig om hulself weer diensbaar te maak as konsultante vir die Nuwe Wêreld-orde. Wat is die “entrepreneur” anders as die ideologiese vorm van die neoliberale self?

Entrepreneurskap beskryf nie meer een van die self se funksies nie, maar is, deels deur die sielkunde, verhef tot ’n persoonlikheidstipe. Dit is ’n ideaal om na te streef.

Die “entrepreneur”, so sê ek vir my afvallige kameraad, is die self wat volledig kommoditeit geword het, wat gereduseer is tot ’n reeks verhandelbare komponente en vaardighede, eindeloos gefragmenteer tot ’n lewe van kortstondige kontrakte in ’n siniese mark van maklik bekombare, tweedimensionele menslike hulpbronne. Die neoliberale subjek se sielkundige opdrag is nie meer “ken jouself” nie. Dit is “bemark jouself”.

Natuurlik, sê my kameraad.

En wie anders as ’n sielkundige gaan jou leer om in jouself te belê, om jouself suksesvol te bemark? Eerder as om die heersende orde te kritiseer, om die psigiese geweld van die neoliberale kapitalisme vanuit die perspektief van individue, groepe en gemeenskappe te ondersoek, hou hulle hulself besig om die sielkundige voorwaardes vir ’n onmenslike, maar nogtans hoogs individualistiese, sisteem in plek te kry en die werking daarvan te help reguleer.

Dit moet ’n mens dan ook glad nie verbaas dat die helfte van die referate oor “entrepreneurskap­” uit China en Afrika gekom het nie.

Hierdie is immers die nuwe weivelde van kapitaal, ruimtes van goedkoop, dikwels ongereguleerde arbeid, plekke waar identiteit, kulturele praktyke en verbruik in die naam van mededingendheid “geïnternasionaliseer” moet word.

Dit is in hierdie plekke waar individue, bloot om te oorleef, gedwing word om hul persoonlike ervarings en kulturele attribute te herverpak as ’n verhandelbare “self”.

Psychology Serving Humanity?

Hulle weet dit dalk nog nie, maar ons bring die plaag.

...

Vrydagmiddag ry ek en my afvallige kameraad huis toe. Ek sit en wonder of dit nog moontlik is om ander sielkundes te verbeel.

Kritiese sielkundes. Kontra-sielkundes. Inheemse sielkundes.

Sielkundes vir, eerder as óór mense. Sielkundes waarin woorde soos onderdrukking en bevryding, haweloosheid en hoop, solidariteit en revolusie die kongres- programme van die toekoms oorheers.

Sielkundes waarin ek en jy nie gereduseer word tot ’n twee- dimensionele prentjie van ’n brein nie, waarin ons verhouding nie verskraal word tot die uitruil van ’n besigheidskaartjie nie.

Dit sal maar moeilik wees, meen my kameraad. Sielkundiges word immers self ook gedwing om entrepreneurs te wees. Hulle funksioneer nie onafhanklik van die eise van ’n neoliberale bestel nie. Sielkundiges beskik oor intellektuele kapitaal en praktiese vaardighede wat maklik is om te bemark in ’n wêreld waar sorg geprivatiseer word, waar maatskaplike probleme en menslike lyding gedepolitiseer en bestuur word.

Kyk maar net om jou. Die empaaier van die self is nog nie besig om te verkrummel nie. Wie weet, miskien woon ons nog in ons eie leeftyd ’n ICP-kongres in Bagdad by! Eers die soldate, dán die sielkundiges...

Ek dink aan twee reëls uit ’n gedig van Danie Marais: “En die ek is ’n dwaalkoeël / wat wegloei in die niet.” Inderdaad.

En miskien moet ons dit láát wegloei, ten minste in die vorm wat die moderne akademiese sielkunde daaraan gee. Soos Paul Auster skryf in sy roman Mr Vertigo: “You must learn to stop being yourself. That’s where it begins, and everything else follows from that.”

Dit is die letterkunde, eerder as die akademiese sielkunde, wat nog bereid is om te praat van daardie “everything else”. Wat nog aandring op daardie aspekte van ons ervarings, verhoudings en identiteite wat nie so maklik tot wetenskaplike en ekonomiese kommoditeite verskraal kan word nie.

Wetenskap van wreedheid?

’n Gewilde item op die International Congress of Psychology in Kaapstad was die vertoning van Doctors of the Dark Side, ’n dokumentêr oor die betrokkenheid van Amerikaanse sielkundiges by die marteling van terreurverdagtes.

Dat sielkundiges, veral sedert 9/11, nie net medepligtiges in marteling is nie, maar sentrale rolspelers in die implementering van marteltegnieke in die “oorlog teen terreur”, is geen geheim nie.

Hedendaagse martelaars verlaat hulle nie net op die toedien van liggaamlike pyn nie, maar teer op sielkundige weerloosheid. Tegnieke soos slaap-deprivasie, blootstelling aan ekstreme lig- en klanksituasies, seksuele vernedering en isolasie word gebruik om slagoffers af te takel.

Die American Psychological Association (APA) bly die enigste professionele liggaam in Amerika wat die betrokkenheid van hul lede by marteling, oftewel “militêre ondervragings”, nie verbied het nie. 

Die sielkunde was nog nooit polities neutraal nie. Dit was van meet af aan vervleg met politieke mag en die militarisering van Amerikaanse betrokkenheid in die buiteland. Om dit te erken, bied ons ’n geleentheid om dit in terme van ander politieke beginsels te bedink.


Die sielkunde se werkwyse het verander: van Freud en Jung se psigoanalise, deur skokbehandeling, die toediening van medikasie en klem op die brein se neurologiese prosesse tot by die selfhelp-lessies van Oprah se Dr. Phil.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 907 votes
No! It's time to move on ...
33% - 440 votes
Vote
Rand - Dollar
18.77
+1.3%
Rand - Pound
23.43
+1.5%
Rand - Euro
20.08
+1.6%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.1%
Platinum
920.10
-0.6%
Palladium
963.50
-2.7%
Gold
2,341.96
+0.4%
Silver
27.52
+0.3%
Brent-ruolie
89.01
+1.1%
Top 40
69,468
+1.5%
All Share
75,475
+1.5%
Resource 10
62,572
+0.7%
Industrial 25
104,126
+1.6%
Financial 15
16,145
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE