Share

Almal is gelyk as dit kom by misdaad

Baie wit Suid-Afrikaners meen misdaad tref hulle erger as ander bevolkingsgroepe. Dit is ’n wanopvatting, sê kenners aan Anim van Wyk.

Misdaad is die een kwessie wat alle Suid-Afrikaners kan verenig, sê me. Lucy Holborn, navorsingsbestuurder aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).

“Die meeste swart en wit Suid-Afrikaners het direkte of indirekte ervarings van misdaad en is bekommerd daaroor. Van die regering se beleid verdeel Suid-Afrika se middel- en werkersklas, maar misdaad is die een ding wat almal beïnvloed,” sê sy.

Hoewel inisiatiewe soos die Shout-veldtog, waar musikante mense aanmoedig om saam te staan teen misdaad, ’n belangrike stap is, moet meer sulke projekte volgens Holborn aangepak word.

Want al hou die polisie nie meer misdaadstatistieke gegrond op ras nie, dui Holborn en ander kenners se navorsing, sowel as dié van Statistiek Suid-Afrika, dat die oorgrote meerderheid van slagoffers nie weens hul ras geteiken word nie.

Die idee dat wit mense spesifiek oor hul ras geteiken word, kan volgens Holborn teruggelei word na oudpres. Thabo Mbeki se ontkenning dat misdaad so erg is as wat mense ervaar.

“Omdat hy wit mense se vrese oor misdaad afgemaak het as ‘wit kermkouse se klagtes’, het dit hulle moontlik die idee begin gee dat hulle op ’n spesiale manier slagoffers is,” sê Holborn.

Die meeste wit, middelklas Suid-Afrikaners het toegang tot die media en die middele het om hul klagtes te lug.

Daarteenoor ly baie swart, arm Suid-Afrikaners basies in stilte omdat die hoofstroommedia gewoonlik nie hul omstandighede belig nie.

In sy termyn erken pres. Jacob ­Zuma misdaad is ’n ernstige bedreiging en maak hy die regte geluide – soos dat die polisie “oorlog teen misdaad moet verklaar”.

“Zuma het nog selde die raskaart gespeel wanneer beleid ter sprake is,” sê Holborn. “’n Mens kry die idee dat hy retories veel meer beslissend oor misdaad is.”

Ongelukkig beteken Zuma se stellings nie meer misdadigers word skuldig bevind nie.

Dít vorm die tweede spilpunt wat Suid-Afrikaners verenig: alle bevolkingsgroepe se frustrasie met die polisie.

“Die gevoel dat die polisie nie genoeg doen of opgewasse is om misdadigers te vang nie, is iets wat deur baie Suid-Afrikaners gedeel word,” sê Holborn.

Volgens die onafhanklike klagtedirektoraat se 2009-’10-verslag het net 1,2% van klagtes ingedien tot ’n skuldigbevinding gelei.

Dit dra by tot die publiek se frustrasie met gevalle van polisiekorrupsie en -wangedrag.

Holborn sê dit pla haar veral dat die media en groepe wat wit mense en die boerderygemeenskap verteenwoordig die polisie se laksheid gebruik as bewys dat wit mense spesifiek geteiken word.

Dat die polisie misdaad deur die vingers sien, is ’n iets wat slagoffers uit alle bevolkingsgroepe ervaar, sê sy. Daarom neem Suid-Afrikaners toenemend hulle toevlug tot private veiligheidsmaatskappye.

Navorsing deur die SAIRV het getoon dat hierdie sektor sterk in die armer provinsies soos Limpopo en die Vrystaat gegroei het.

Dis veral omdat veiligheidsmaatskappye deesdae al hoe meer bekostigbare dienste vir townshipbewoners begin bied.

“Ek dink dis ’n teken dat almal bekommerd is en daarom besluit om een of ander vorm van private beveiliging te kry.”

Álle Suid-Afrikaners ly onder misdaad, beaam dr. Rudolph Zinn, Unisa-lektor in polisiepraktyk, en dr. Johan Burger, senior navorser aan die Instituut van Sekuriteitstudie (ISS), Holborn se stelling.

“Mense dink ons grootste misdaadprobleem in Suid-Afrika is moord, maar dis diefstal,” sê Zinn.

Volgens die amptelike polisie-statistieke is 386 000 gevalle van diefstal in die vorige boekjaar aangemeld, teenoor 16 000 moorde.

Zinn sê diefstal toon ’n normale verspreidingspatroon onder die bevolking – almal word dus ewe veel besteel.

Wanneer ’n mens egter kyk na die sogenaamde “gemeenskapbande”-misdade, soos moord en verkragting, is die voorkoms veel hoër in armer gebiede.

Dit kan toegeskryf word aan alkoholmisbruik en haglike sosiale omstandighede.

Burger verduidelik dat dit meestal swart en bruin mense is wat in sulke arm gemeenskappe woon, hoewel dit onder wit mense toeneem.

Wanneer eiendomsgerigte misdade ter sprake is, sal dit eerder in meer gegoede woonbuurte gebeur.

“Misdadigers roof van mense wat hét, of hulle nou wit of swart is,” sê Zinn. Hy het met gevonniste misdadigers onderhoude vir sy doktorsgraad gevoer. Daarin het hy die oortreders uitgevra oor hoekom hulle ’n spesifieke slagoffer gekies het.

“Die oorgrote meerderheid het gesê dit gaan oor geld, nie die ras van die slagoffer nie,” sê hy.

Tog loop sogenaamde swart woon­gebiede ook onder huisrooftogte deur.

Zinn noem dat die polisie sowat twee jaar gelede in ’n verslag aangedui het by watter polisiekantore die meeste huisrooftogte aangemeld word.

Meer as die helfte van die top20 was in voormalige swart woongebiede.

Burger sluit hierby aan wanneer hy die syfers vir rooftog onder oë neem.

Só vind 22% van sakerooftogte by klein ondernemings plaas, wat dikwels tavernes of spazas is.

As ’n mens die misdaadsyfers ontleed wat in die 2011-misdaadslagoffer-peiling van Statistiek Suid-Afrika verskyn, blyk dit dat 4,3% van die swart respondente slagoffers van ’n huisbraak was, teenoor 6,5% van die wit respondente.

2,6% van die swart re­spondente was tuis tydens ’n huisroof, teenoor 3% van die wit huishoudings.

11 swart huishoudings het ’n moord beleef teenoor geen van die wit huishoudings nie.

Van die 13 000 huishoudings wat ondervra is, was wit huishoudings die mees tevrede met die polisie (68%) en was wit mans ook die meeste geneig om te glo dis veilig om bedags en snags in hul woongebied rond te stap.

Daar is dus ’n verskil tussen wat op grondvlak gebeur en wit mense se indruk van misdaad is.

Burger sê berigte wat groot aangebied word, versterk die indruk dat wit gemeenskappe geteiken word.

“Ek dink nie ons navorsing kan dit staaf nie,” sê hy. “Wanneer wit mense slagoffers word, is dit omdat hulle gesien word as meer welgesteld en dus die moeite werd om op toe te slaan.”

Persepsies oor misdaad


Die grootste vrees

Statistiek SA het tussen Januarie en Maart 2011 ’n misdaadslagoffer-peiling onder 13 000 huishoudings uitgevoer. Die steekproef verteenwoordig 20 miljoen van Suid-Afrika se bevolking.

Meer as 40% van die huishoudings het geglo dat gewelddadige en nie-gewelddadige misdaad in hul omgewing tussen 2008 en 2010 afgeneem het. Minder as 35% het gemeen dat misdaad toegeneem het, terwyl omtrent ’n kwart gedink het dat dit stabiel gebly het.

53% van die huishoudings het geglo huisbraak* was die mees algemene vorm van misdaad, gevolg deur huisrooftogte (49,7%) en straatrooftogte (40,9%).

Misdade wat die meeste gevrees is: huisrooftogte (50,4%), huisbraak (50,2%), straatrooftogte (39,7%) en moord (34,1%).

In 2010 het ’n derde van huishoudings oop ruimtes uit vrees vir misdaad vermy, terwyl 22,2% kinders nie sonder toesig in hul omgewing wou laat speel of rondbeweeg nie. 14,5% van hulle wou nie toelaat dat kinders alleen skool toe loop nie.

(*Huisbraak: mense nie tuis;
Huisrooftog: mense is tuis.)




 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
41% - 554 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
59% - 796 votes
Vote
Rand - Dollar
18.87
+0.3%
Rand - Pound
23.84
+0.3%
Rand - Euro
20.38
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.32
+0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.2%
Platinum
908.05
0.0%
Palladium
1,014.94
0.0%
Gold
2,232.75
-0.0%
Silver
24.95
-0.1%
Brent Crude
87.00
+1.8%
Top 40
68,346
0.0%
All Share
74,536
0.0%
Resource 10
57,251
0.0%
Industrial 25
103,936
0.0%
Financial 15
16,502
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE