Share

Die onbeskryflike pyn

Duisende Afrikaners het die afgelope 15 jaar tot armoede verval, maar dit hoef nie ’n doodsvonnis te wees nie. Neels Jackson het gesels met mense wat daaruit opgestaan het.

‘Moedeloos” is eintlik ’n te goeie woord. Hulle moet nog ’n woord uitvind wat kan beskryf hoe ’n mens regtig voel.

Aan die woord is Jakes Joubert, vandag past. Jakes Joubert, iemand wat weet hoe voel dit daar diep onder in die put van armoede – daar waar daar nie meer woorde is om te beskryf hoe jy voel nie.

As iemand so ’n woord uitvind, sê Joubert, moet dit ’n woord wees wat moedeloosheid insluit, maar ook kommer en selfverwerping.

Gesels jy met mense wat daar was, is daar een frase wat telkens opduik: rock bottom.

Om die een of ander rede is verskeie terme wat arm Afrikaners gebruik in Engels.

20 jaar gelede was dit iets wat min wit mense geken het, maar deesdae is daar al hoe meer Afrikaners wat daardie onbeskryflik en klipharde onderkant van armoede ken.

Maar, sê past. Lourens Groenewald (wat self daar was en in shelters en op straat geslaap het) daar is ook mense wat daaruit opstaan, mense wat staal in hulle het en nie gaan lê nie.

Ja, gee hy toe, daar is ook van die arm mense wat flippen useless is, wat altyd daar sal bly, maar hy meen daar is selfs meer mense wat sterk genoeg is om op te staan – en hy gaan stel my voor aan ’n paar wat dit al gedoen het of besig is om dit te doen.

Luister ’n mens na hul verhale, kom daar ’n paar duidelike temas na vore.

Een daarvan is ’n innerlike krag, die staal waarvan Groenewald praat.

En dit, hoor jy by mnr. Wayne Rudman van Johannesburg, kom uit die opvoeding wat hy as kind gekry het.

Hy is nie grootgemaak om op ander mense te steun nie.

Dit was vir hom ’n vernedering toe hy ander in die oë moes kyk vir ’n dak oor die kop.

Hy kom oorspronklik van Oos-Londen af, maar het Gauteng toe gekom in die hoop op beter werk.

Planne het misluk en hy en sy gesin het drie jaar lank in ’n shelter gebly.

Mnr. Hendrik van Rooyen van Krugersdorp het ’n soortgelyke verhaal.

Hy het werk gehad, maar is retrench. Hy het sy heil in KwaZulu-Natal gaan soek, maar dit het nie gewerk nie.

Uiteindelik het hy en sy gesin in ’n geleende woonwa in die Kroningspark-woonwapark-cum-plakkerskamp beland – waar sommige inwoners net wou drink en baklei en dronknes hou.

Van Rooyen het in ’n kinderhuis grootgeword en van kleins af geleer dat hy eendag vir homself moet sorg.

Terwyl hy baie ander goed verloor het, het hy sy selfrespek behou.

Deel daarvan was die oortuiging dat sy plig was om vir sy vrou en kinders te sorg.

Hy wou nie van donasies leef nie.

Daarby het hy ook nog sy geloof gehad – iets wat ook soos ’n goue draad deur die verskillende opstaan-verhale loop.

Van Rooyen sê hy het gebid dat die Here uitkoms moes gee.

Hy het nie gevra vir ’n groot motor en vir ’n huis nie, net vir ’n werk.

Ook Rudman vertel dat hy sy Bybel gelees het en met die Here geworstel het. Hy het gevoel die Here sê vir hom die shelter moenie ’n gemaksone word nie.

Hy het gebid: “Here, maak asseblief vir my deure oop.”

Joubert se verhaal het anders verloop.

Hy het “tussen die middel- en die arm klas” grootgeword en het 11 jaar lank by die poskantoor gewerk voordat hy sy werk verloor het.

Hy het eers ’n goddelose lewe gelei, sê Joubert, met die tatoeëermerke uit daardie dae wat nog op sy arms, bene en lyf pryk.

Mense het aan hom gekarring oor godsdiens, maar dit het nie vir hom sin gemaak nie.

Toe slaan iemand in ’n kroeggeveg sy knie af en hy beloof hy sal sy lewe vir die Here gee as hy dit oorleef.

Hy het gesond geword, maar eers maande later sy belofte nagekom.

In die twee jaar dat hy werkloos was en in ’n kamertjie agter in sy ma se erf gebly het, het hy baie dae gevoel soos daardie woord wat nog uitgevind moet word.

Daar is ’n profesie oor sy lewe uitgespreek dat God hom nog ’n pastoor gaan maak, en daar het hy gesit met niks.

En toe – en dis die derde deurlopende tema in al drie verhale – kom daar ’n kans na sy kant toe.

Dis nie almal wat in desperate armoede is wat kanse aangryp nie.

Daar is verhale van mense oor wie ’n weldoener hom ontferm – en dan besteel hulle hom.

Sulke mense bly in hul plakkersbestaan vasgevang.

Groenewald praat van hulle as daardie “mismoedige, triestige, bang Afrikaners met die lang sigarette” – maar hy meen die meeste armes is nie so nie.

In Joubert se lewe was daar ’n sakeman wat hom ’n pos in sy videowinkel aangebied het.

Hy het later ’n klomp van die man se administrasie behartig – en sy weldoener het hom ’n woonstel gegee en die kans om aan ’n Bybelkollege te studeer.

In Van Rooyen se geval het hy op ’n dag vir ’n man wat in die plakkerskamp kom kerk hou het, gesê hy sal graag ’n werk wil hê.

In dié stadium het hy Krugersdorp al vergeefs platgeloop op soek na werk.

Daar is vir hom ’n geleentheid by ’n groot bou-onderneming gereël.

Hy sou op die heel onderste vlak met opleiding begin en R30 per dag betaal word – minder as sy vervoerkoste werk toe en terug.

Maar hy het vasgebyt, gevorder en het later as junior voorman op ’n deel van die Gautrein-projek gewerk.

Intussen het me. Melodie van Brakel, ’n weldoener, gereël dat hy en sy gesin uit die plakkerskamp na ’n woonstel verhuis.

Sy het hulle geldelik gesteun totdat hulle op hul eie voete kon staan.

In die plakkerskamp, waar Van Brakel ’n kleuterskool begin het, kon sy sien die Van Rooyens is anders, vertel sy.

Daar was byvoorbeeld geen drank nie. Daarom het sy gehelp.

Dis nog nie maanskyn en rose nie, sê Van Rooyen. Hy het nie ’n motor nie.

Maar hy is optimisties oor die toekoms. Hy is trots op sy werk en mik na verdere bevordering. Hy dink daar is te veel mense wat met die witbrood onder die arm kla.

In Rudman se geval het hy geld geërf toe sy pa dood is. Hy het daarmee ’n tuindienste-onderneming begin en sien ook ’n blinker toekoms wat wink.

In dié stadium het hy een vragmotor (agter op die bak staan: “Emmanuel God is with us”). Hy wil nog een of twee koop.

Hy en sy gesin bly nou in ’n huurhuis en hy het al ’n aanbod gemaak om ’n ander huis te koop.

Joubert het sy opleiding aan die Bybelkollege voltooi en is nou pastoor van ’n klein gemeente.

Hy doen 98,9% van sy werk onder armes, sê Joubert.

Baie van hulle het baie seer binne, en dis ’n seer waarmee daar selde gewerk word en waarvoor ’n kospakkie nie help nie.

En dis nog ’n deurlopende tema in die verhale: besorgdheid oor ander armes.

Van Rooyen sê spontaan hy sal graag ander mense wil help wat in dieselfde posisie beland het as hy.

Rudman sê hy neem werklose mense in diens.

En onlangs het sy gesin met hom baklei toe hy vir ’n vreemde, hawelose mens slaapplek in hul sitkamer wou maak.

Rudman, Van Rooyen en Joubert kyk nou al drie vorentoe.

Hulle het nie meer behoefte aan daardie woord wat nog uitgevind moet word nie – en hulle eer die Here daarvoor.


Mev. Lizette van Rooyen gesels oor die ommekeer in hul lewe. By haar is haar, mnr. Hendrik van Rooyen.Foto: Craig Nieuwenhuizen


 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 392 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 817 votes
Vote
Rand - Dollar
19.12
+0.2%
Rand - Pound
23.71
+0.5%
Rand - Euro
20.38
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.28
+0.1%
Rand - Yen
0.12
+0.1%
Platinum
943.50
-0.7%
Palladium
1,033.50
+0.4%
Gold
2,392.78
+0.6%
Silver
28.58
+1.3%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE