Sy’s die een wat jare lank kospakkies vol gesonde eetgoed gepak het en die hardste gegil het as hulle op die wen-streep afgepyl het.
Superatlete het g’n tekort aan jillende aanhangers, gretige borge of net die beste afrigters nie.
Maar daar is een ondersteuner-, mentor-, kopdokter- en afrigter-in-een waarsonder die meeste van dié atlete nie sou kon klaarkom nie.
Dit is daardie een wat jare lank taxibestuurder gespeel het om hulle na oefensessies te karwei; kospakkies vol gesonde eetgoed gepak het om vir energie te sorg; pleisters geplak het op gekweste ego’s en die hardste gegil het as hulle op die wenstreep afgepyl het.
Wie anders kan al dié dinge doen, sonder betaling of eer?
’n Ma, natuurlik.
As huldeblyk aan ma’s het die internasionale handelsmerk Procter & Gamble (P&G), ’n internasionale vennoot van vanjaar se Olimpiese Spele, die Thank You Mom-veldtog wêreldwyd begin.
In Suid-Afrika is die ma’s van ses Suid-Afrikaanse Olimpiese atlete as ambassadeurs vir die veldtog aangewys, sodat hulle vir ’n slag op die hande gedra kan word. Pols het met vier van hulle gesels.
- Besoek www.thankyoumama.co.za om meer uit te vind oor die projek én om jou eie ma te bedank vir alles wat sy vir jou doen.
Help kind om talent te ontgin
Enigiemand wat dié ma ken, sal vir jou sê sy is ongelooflik trots, sê Mandie Stander, ma van die bergfietsryer Burry Stander.
“As ek by ’n winkel instap en Burry op ’n voorblad sien, sal ek eers vir almal wys dis mý seun.”
Stander, wat saam met haar gesin in Umtentweni aan die Suidkus woon, lag wanneer sy uitgevra word oor haar “geheime resep” om ’n top-atleet groot te maak.
“Jy doen eintlik net die back-up, die res kom natuurlik. As jou kind talentvol is en hy wil presteer, help jy hom om sy talente te ontgin.”
Dié benadering het ’n lewe beteken wat “nooit rustig was nie”.
“Ons het baie agter geleenthede aangery vir Burry en dit het ons sakke geraak. Maar dit het gehaltetyd saam met die gesin beteken - tyd om te gesels en speletjies te speel.”
Back-up of nie te nie, die geld om reise soos dié aan te pak kom aanvanklik meestal uit ouers se sakke.
“As jy ’n geldjie móét maak en jy is mal oor jou kinders, doen jy dit maar net,” sê Stander, wat haar eie onderneming bedryf.
Mandie Stander en haar seun, die bergfietsryer Burry Stander.
Ondersteuning eerder as druk, gee Beverly raad
Sy het tot onlangs nie juis gedink aan hoe sy destyds haar werk, gesinslewe én Cameron se vol program gebalanseer het nie, sy het dit maar net gedoen, verklap Beverly van der Burgh, ma van die swemmer Cameron van der Burgh,
“Dis seker omdat ek niks in die hitte van die oomblik los nie - ek’s baie georganiseerd. En dis natuurlik makliker noudat Cam homself by oefensessies kan kry!”
Toe Cameron nog op skool was, moes sy hom egter al om 05:30 soggens vir sy swemoefeninge aflaai.
“Ek het saamgegaan swembad toe en hy het sommer ná die tyd daar reggemaak vir skool. Dan het hy die ontbyt wat ek vir hom ingepak het op die agterste sitplek gesit en eet,” onthou sy.
“Ek het maar in die aand gewerk wanneer almal slaap.”
Hulle het Cameron van kleins af aangemoedig om aan verskeie sportsoorte deel te neem en hy het hom eers op 16 op swem toegespits.
“Toe hy skielik ontevrede was met ’n tweede of derde plek, het ons besef daar is iets wat hom dryf om te presteer.”
Sy sê ouers behoort nie druk op hul kinders te plaas nie.
“Dit gaan eerder oor ondersteuning en aanmoediging. Wys jy stel belang in wat hy doen!”
Sorg net dat jy belang stel in wat jou kind doen, is Beverly van der Burgh, ma van die swemmer Cameron van der Burgh, se raad.
Respek, volg jou drome, haar les
“Ek dink Khotso is waar hy vandag is oor die manier waarop ek hom grootgemaak het; hom geleer het om sy drome te volg en om respek te betoon,” sê Sonto Mokoena, ma van die verspringatleet Khotso Mokoena.
Haar seun beaam dit: “Daar is nie ’n manier waarop ek, of enige ander atleet, sou wees waar ons vandag is, sonder die ondersteuning van ons ma’s nie.
“Ek sal haar nooit genoeg kan bedank nie.”
Sy ma sê hulle het geweet Khotso is vir groot dinge bestem toe hy al op laerskool kon spring dat die stof so trek.
“Ek gaan ondersteun hom soveel ek kan. En as hy nie so goed vaar nie, herinner ek hom dit het harde werk geverg net om daar te kom. Partykeer wen ons, ander kere verloor ons.” Sy het nie presente nodig om gewaardeer te voel nie. “ ’n Druk van hom af is genoeg.”
Sonder sy ma, Sonto Mokoena, sou hy nêrens gekom het nie, meen die verspringatleet Khotso Mokoena.
‘Jy moet sterk wees, my skat’
Sy was glad nie in haar noppies nie toe haar dogter in sokker begin belangstel het nie, verklap Sibusiswe Dlamini van Harding in KwaZulu-Natal.
Sy is die ma van Amanda Dlamini, kaptein van die vrouesokkerspan Banyana Banyana.
“Maar toe ek agterkom hoe goed sy dié sport speel, het ek haar begin ondersteun,” sê Dlamini. “As sy moeg en seer by die huis sou kom, sou ek haar help was of haar seerplekke verpleeg. As hulle op warm dae sokker gespeel het, het ek vir die hele span water aangedra. En ek het vir haar sokkerskoene gekoop.”
Sy het ook gesorg dat sy haar dogter toerus met wyse raad.
“Ek het altyd vir haar gesê: ‘Jy moet sterk wees, my skat, want as jy swak is, gaan jy seerkry in dié sport.’ ”
Haar dogter se sukses het haar uit die veld geslaan.
“Dat sy ooit aan ’n Olimpiese Spele sou deelneem, sou ek nooit kon raai nie. Ek was in ekstase toe sy as kaptein van Banyana Banyana aangewys is.”
Deesdae voel dit of elk van Amanda se spanmaats, haar eie dogters is.
Amanda Dlamini, kaptein van Suid-Afrika se vrouesokkerspan, beskryf haar ma, Sibusiswe, as haar steunpilaar.