Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Verklaar jou liefde met ’n kaartjie

2012-02-08 06:00
Het die dag van liefde ook virtueel geword of koop mense nog tradisionele Valentynskaartjies? Marisa Beeton het gaan uitvind.

Jy kan dit nie miskyk nie. Die helderrooi kaartjies getooi met silwer hartjies of wit teddiebere en iewers bo-op staan in swierige letters geskryf “I luv u”.

Dis daardie tyd van die jaar dat die Valentynskaartjies winkelrakke vol staan.

Praat met enigiemand en hulle sal jou vertel hoe daar op skool kaartjies by die klas afgelewer is, watter spesiale kaartjie hulle gekry het of hoe hul beste maatjie meer Valentynskaartjies gekry het as hulle.

Jip, jou gewildheid is gemeet aan daardie stukkie helderkleurige karton.

Maar vandag is dinge anders. Liefde word virtueel met ’n SMS of op Facebook verklaar en daar is selfs e-kaartjies (e-cards) vir daardie persoon wat ’n tikkie meer moeite doen.

TRADISIONELE KAARTJIES

Beteken dit mense koop nie meer tradisionele groetekaartjies nie?

Die antwoord, veral op Valentynsdag, is: NEE!

“Die Valentynseisoen is vir ons ’n baie belangrike tyd, dit het selfs Moedersdag verbygesteek in gewildheid,” sê Lindi Engelbrecht, assistent- produk- en bemarkingsbestuurder vir die geskenkwinkelgroep, Cardies, wat reeds in Januarie hul Valentynskaartjies uitgepak het.

“Wanneer liefde in die lug is, wil jy jou boodskap oordra en ’n kaartjie bly die gewildste manier om dit te doen. Dit gee jou die kans om jou liefde te verklaar sonder dat jou tong knoop.

“Valentynsdag se verbruikersbasis groei jaarliks soos wat selfs jonger generasies ontdek hoe lekker dit is om ’n kaartjie te gee,” sê Engelbrecht.

Tog erken sy dat die digitale era ’n impak op die groetekaartjiemark gehad het, maar sy sê dit het nie fisiese kaartjies vervang nie.

“Groetekaartjies vervul nog hul rol vandag. Dit versterk verhoudings en by Cardies het ons gevind die Suid-Afrikaanse mark is baie vers-georiënteerd. Die bewoording van die kaartjie is baie belangrik en mense sal ure in die winkel deurbring om die regte kaartjie te kies.”

E-KAARTJIES

Anina Venter, ’n direkteur by die web-maatskappy Nedoweb. com in Somerset-Wes, stem saam dat tradisionele kaartjies nie op pad uit is nie.

“Hoewel e-kaartjies, SMS’e en Facebook gewild is om boodskappe mee te stuur, gaan kaartjies nog lank met ons wees,” sê sy.

“Daar is mense wat glo om winkel toe te gaan en die regte kaartjie vir die geleentheid uit te soek, is die persoonlikste ding wat hulle kan doen.”

Dit terwyl die nuwe elektroniese kaartjies weer ander voordele inhou.

“E-kaartjies is gewild onder die jonger generasie (16 tot 35 jaar). Vir hulle is dit makliker, goedkoper en meer omgewingsvriendelik as die tradisionele kaartjies. Hulle kan ook hul e-kaartjie verpersoonlik.”

En dan word die kaartjie onmiddellik gestuur en ontvang – ’n kitsroete vir ’n kitsgenerasie.

Engelbrecht sê ook die ouer generasie is meer geneig om kaartjies te gee, maar dat die jonger generasie tog die belangrikheid daarvan besef.

“Vir die jonger geslag is hoe die kaartjie lyk belangrik, hulle wil hê die ontwerp moet pas by die persoon wat dit kry.”

KAARTJIES AL EEUE OUD

Maar of jy nou ’n tradisionele kaartjie verkies of vir jou geliefde ’n e-kaartjie gaan stuur, dié gebruik is al vir eeue deel van die Valentynsdagtradisie.

Volgens motioncards.com het mense in die Middeleeue hul liefdesboodskappe vir mekaar gesing en in die 1400’s het die eerste geskrewe boodskappe verskyn.

Die oudste Valentynskaartjie is juis in daardie eeu gemaak en kan vandag in die Britse Museum gesien word.

Esther Howland, ’n Amerikaanse skilder van die 1850’s, was een van die eerste mense om Valentyns­kaartjies in daardie land te druk en te verkoop.

En vandag nog gee Amerikaners meer kaartjies op Valentynsdag as op enige ander geleentheid. Die enigste uitsondering daarop is Kersfees.
 
Maak jou boodskap spesiaal

Tradisionele kaartjies of e-kaartjies; ’n liefdes-SMS of Facebook-boodskappe... mmmmm. Dalk is nie een van dié maniere voldoende om jou hart se punt te laat weet hoe lief jy hom of haar regtig het nie. Want Liefie is eintlik te spesiaal om ’n virtuele kaartjie te kry.

En hoekom sal jy ’n gedrukte kaartjie by die winkel koop wat dieselfde is as honderde ander?

Suretha Swarts, die eienaar van Ruby Sue Special Event Stationery, glo ’n handgemaakte kaartjie kos drie maal minder, is baie meer spesiaal en natuurlik enig in sy soort.

Deur haar werk sien sy dat baie mense verkies om hul persoonlike stempel op ’n kaartjie te plaas en sy deel ’n paar kaartjie-idees vir Valentynsdag:

  • Gebruik ’n eenvoudige vel rooi, pienk of selfs wit karton. Knip dit in ’n hartjiepatroon uit, of in die vorm van jou geliefde se voorletter/naam. Skryf dan jou liefdeswoordjies daarop.
  • Gee ’n handgemaakte kaartjie ’n romantiese gevoel deur ’n randjie van halfsirkels uit te sny en gaatjies met ’n eengaatjiepons te maak, om ’n broekielace-effek te skep.
  • Uitgeknipte letters van koerantopskrifte wat woorde vorm, lyk kreatief en het baie trefkrag.
  • Skandeer ’n paar foto’s van jul spesiale oomblikke, druk hulle klein uit in swart en wit en beeld op ’n rooi kaartjie ’n tydlyn van jul verhouding uit.
  • Koop ’n reuse-blok sjokolade en vervang die verpakking met jou eie unieke handgemaakte een wat amper soos die oorspronklike lyk, maar jou spesiale, persoonlike boodskap bevat.

Vir meer inligting oor persoonlike kaartjies en uitnodigings, bel Suretha Swarts by 074 151 4641 of stuur ’n e-pos aan suretha@rubysue.co.za.




«Terug