Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Tussen die boom en die bas

2010-10-08 22:27
Tuiniers het altyd vrae en soms groot tuinkwellings. Miskien sal ’n paar vrae oor bome wat ek die laaste klompie maande gehoor het en die antwoorde wat ek vir hulle moes uitdink en elders ingewin het, jou dalk help met oplossings. Dis egter nie te sê die raad is noodwendig doodreg nie, maar dit is ten minste goed bedoeld (en dalk ’n bietjie skertsend).

Vraag: Ek het twee amber­bome ( Liquidambar styraciflua ) in ons meenthuistuin redelik naby aan die huis geplant. Die kompleksbestuur kla nou en is bekommerd dat die wortelstelsel aggressief is. Sommige mense sê hulle word net 6?m hoog en het ’n penwortelstelsel en ander meen weer hulle sal tot 20 m hoog word en kan baie skade aan die waterpype en geboue aanrig. Is daar verskillende variëteite van die boom met verskillende groottes? Ek is nie lus om hulle uit te haal nie, ek lief hulle!

Antwoord: Sjoe! Jy het ’n taai tameletjie en ’n amper emosionele probleem, want hoe gemaak as ’n mens verlief raak op ’n boom, die moeite doen om sommer twee van hulle te plant en dan later, (seker ook nie baie simpatiek nie) ingelig te word hulle moet waai omdat hulle die potensiaal het om ’n bousel te beskadig?

Koelbloedig logies moet ’n mens in ag neem dat dié boom van Noord-Amerikaanse oorsprong in sy natuurlike habitat en in optimale groei-omstandighede volgens tuinboekskrywers 10?m tot 30?m hoog kan word – dis deksels groot in die ideale “amberboom-hemel”, maar terselfdertyd ook ’n vreeslike verskil in hoogte om te sluk en sommer goedsmoeds as die wet van Mede en Perse te aanvaar.
Want as bome of groot struike (eksoties en inheems) tog te lekker aanpas buite hul natuurlike habitat, is die kanse goed dat hulle in ’n beperkte ruimte die grense van fatsoenlikheid sal oorskry en mensegoed gaan bedreig met wortels wat oral inkruip.

Maar die omgekeerde is ook waar, want baie plante bereik net nooit die benaderde grootte soos voorgeskryf buite hul habitat nie. As ’n mens altyd aan botaniste se mates wat ’n plant se uiteindelike grootte betref moes aandag gee, sou niemand nooit niks wat hoog groei plant om die harde landskap om klein tuine tussen nabygeleë meenthuise te vergroen nie. Maar dit daar gelaat?…

Amberbome is in die meeste klimate van Suid-Afrika nie reusevandalistiese bome nie. Hulle verskil van plek tot plek van grootte en variasie. Hulle groei oor die algemeen piramidaal en neem nie bogronds baie ruimte in nie. Daarom word hulle in baie dorpe as straat- of laningbome geplant.

Hulle het ’n diep penwortelstelsel wat van hoë reënval hou, is bladwisselend en pragtig in die herfs. Hulle is “morsig” weens die blare wat grond toe val, maar ’n slim tuinier wat dié gratis geskenk waardeer, sal weet ’n mens kan die dooie blare inspan as blaarmolm en ’n deklaag wat die grond voed en klam hou.

Ek kan nie oordeel of jy die bome moet uithaal nie. Ek kan wel aanbeveel dat kompleksbestuurders wat regtig omgee vir vergroening én die geboue die moeite sal doen om voornemende huiseienaars goed in te lig oor die plante wat húlle meen geskik is vir die kompleks se tuine. Hiermee bedoel ek dat hulle en die ontwikkelaars vooraf professionele landskapbeplanners moet vra om ’n voorgestelde plantlys op te stel vir die spesifieke ontwikkeling.

Dit sal die nuwe eienaars wat wil tuinmaak en nie vertroud is met die omgewing, klimaat en ondergrondse infrastruktuur nie, soveel hartseer spaar.

Vraag: Ek is op soek na bome wat ek naby my swembad kan plant vir skaduwee. Hulle moet immergroen wees, vinnig groei om gou privaatheid te verskaf en nie mors nie. Ek is ’n tuinier wat aandring op lae-instandhoudingtuinmaak. Wat kan ek plant?

Antwoord: ’n Kits-Eden van welige bome vir koelte, palms vir die eiland-gevoel en glinsterende helderskoon water in die blou dam op die werf klink dalk na ’n romantiese idee, maar groot plante en ’n swembad is prakties gesproke nie altyd ’n sorgvrye ervaring nie.

Die term “immergroen” beteken dat die boom nie in enige stadium sonder sy loof sal wees nie, maar immergroen plante beleef ook seisoensveranderinge en reageer daarop deur blomme, stuifmeel en sade en saadpeule af te skud. Hulle laat ook dwarsdeur die jaar van hul blare grond toe val.

Bladwisselendes gooi gewoonlik hul blare in die herfs en winter op een slag af en dan kan die “gemors” vinnig opgeruim word.

Bome wat te vinnig groei het oor die algemeen nie ’n baie lang leeftyd nie en soos hulle handdoek ingooi, mors hulle geweldig met droë takke en vallende blare – dan gaan jy nog boonop die ou stomp moet laat verwyder. Palms is netjies en pragtig wanneer hulle nog jonk is, maar word baie groot en dan is daar gedurig vallende blaarskede en trosse sade. Doringbome soos die pragtige koorsboom, wat baie tuiniers naby ’n swembad plant, het nie net ’n baie aggressiewe wortelstelsel nie, maar gooi ook sy lang dorings af wat kaalvoetlopers erg seermaak.

Bogenoemde sal jou seker laat wonder of dit hoegenaamd wys is om bome naby die swembad te plant. Maar, met goeie boomkeuses en nougesette sorg kan dit tog gedoen word. Dis tog te lekker om naby die water in hul heerlike koelte te sit en hul mooiheid te geniet. En as jy so af en toe ’n bietjie daaraan moet werk om alles skoon en netjies te hou, gaan jy mooi boude kry.

Hier is ’n paar goeie keuses:

  • Laventelboom (Heteropyxis natalensis): klein, bladwisselend tot semi-bladwisselend en verdra ligte ryp.
  • Teerhout (Loxostylis alata): klein tot middelslag en immergroen. Verdra matige ryp.
  • Olienhout (Olea europaea sub. africana): klein tot middelslag, immergroen. Koue- en rypbestand.
  • ?Boomaalwyn (Aloe barberae): klein tot middelslag. Verdra ligte ryp.?
  • Without (Ilex mitis): middelgroot tot groot, immergroen. Matig rypbestand.
  • Kareeboom (Rhus lancea): klein tot middelslag, immergroen. Koue- en rypbestand.?
  • Reusedrakeboom ( Cordyline australis ): middelslag, immergroen. Kouebestand. (Daar is nou pragtige nuwe variëteite beskikbaar en hulle sal almal mooi wees naby die swembad.)


Vraag: Ek sien miniwoude is groot nuus. Dit is presies die regte idee vir ’n probleemhoek in my tuin. Ek het reeds op ’n ander plek (hoër op waar dit droër is) ’n paar luiperdbome geplant. Ek bly in die Oos-Kaap. Dit is nie teen die kus nie (15?km weg), maar dit reën in die winter en ek het ’n erf waarvan die onderste hoek in die winter altyd sopnat is met die aakligste kleigrond wat ek nog gesien het. Smaak my dis suur ook.

Al wat daar groei is varkore. Ek het al die hele plek daarmee toegeplant, maar ek kort skaduwee vir hulle, want in die somer is dit te warm en dan verbrand hulle. Dit is juis ook in die somer wanneer die grond hard en droog word op die oppervlak. Water bly staan en loop nie weg nie, want daar is nie ondergrondse dreinering in die straat nie.

Weet jy van enige bome wat ek daar kan plant om die water te hanteer sonder om indringerig te word en wat nie sal omgee om uit­eindelik ’n miniwoud te word nie? Ek’s raadop?… alles wat voorgestel is, het gevrek, want die wortels kan die nat koue nie verdra nie.

Antwoord: Die eerste ding wat opgemors en gekompromitteer word as huise gebou word, is die grond. Werk mildelike vragte kompos, mis of ’n mengsel van die twee in die grond in. Die eerste slag moet dit ingespit word (nie dieper as 30 cm nie). Daarna herhaal jy die oefening minstens een keer per jaar, maar dan word die kompos/mis net bo-op die grond gegooi. Binne 2 jaar behoort jy vry-dreinerende grond te hê.

Aangesien jy melding maak van “erf” en “straat” moet ons glo dat dit ’n dorpstuin is wat soveel probleme gee en dan aanvaar dat daar darem stormwaterpype sal wees wat die water van die geboue af weglei.

Aangesien jou erf teen ’n helling lê, behoort dit nie te moeilik te wees om jou eie dreineringstelsel aan te lê van die hoogste punt tot by die laagste en dan tot in die stormwaterdreineringstelsel nie. Kry maar liefs eers die grond mak voor jy jou miniwoud begin plant.



Dink mooi watter bome jy naby jou swembad plant. (Foto’s: verskaf)


Die pragtige silwerwitstamme van silwerberke – ideale klein bome vir ’n miniwoud.


Die pragtige herfskleure van die slanke amberboom.

’’Doringbome soos die pragtige koorsboom, wat baie tuiniers naby ’n swembad plant, het nie net ’n baie aggressiewe wortelstelsel nie, maar gooi ook sy lang dorings af wat kaalvoetlopers erg seermaak.


«Terug