Jan Kruger van Brackenfell skryf:Wanneer laas het jy ’n brief of poskaart in die pos gegooi – of selfs een ontvang? Die laaste keer wat ek ’n poskaart ontvang het, was dit van die hoë rooi posbus in Calvinia.
Ons het al ’n paar keer deur die Hantam se hoofdorp gery, op pad na my vrou se gunstelingplek, die Kgalagadi-oorgrenspark, en dan het ons stilgehou om ’n foto van dié groot posbus te neem wat tot 1995 ’n watertoring was.
So het ek die Calvinia-toerismekantoor ná ’n onlangse besoek aan Kgalagadi in Maart 2010 geskakel om meer uit te vind oor die posbus. Die vriendelike dame aan die ander kant van die telefoon het dadelik aangebied om vir my ’n poskaart met ’n foto van die posbus te pos.
Twee weke later kry ek ’n poskaart in ons posbus: voorop ’n foto en agterop die inligting oor die posbus. Dit het my laat besef daar is darem nog plekke in die mooi land van ons waar jy vriendelikheid en goeie diens kry.
Die ses meter hoë rooi posbus langs Kerkplein in Calvinia is waarskynlik die grootste posbus in Suid-Afrika. Wat dit egter meer merkwaardig maak is dat dit steeds daagliks gebruik word om briewe, bestellings, poskaarte en ander posgoed die land in te stuur. Die pospakkie, met ’n spesiale blomstempel, gaan eers Upington toe via Brandvlei, Kenhardt en Keimoes, waar dit gesorteer en verder na die eindbestemming versend word.
Dit laat my toe dink of mense nog briewe skryf, of poskaarte ontvang, of ’n foto per pos aanstuur? Koop mense nog poskaarte?
Ek onthou nog die middel-1970’s toe ons op ’n plaas by Summerville in die Sondagsriviervallei, Oos-Kaap, gewoon het.
My ma het vir ons sweetpakke deur die pos bestel. Jy kon ook John Deere-oorpakke bestel – nie daai two tone-pakke van vandag nie – die regte groenes.
Ek onthou hoe ons nie kon wag vir die twee weke (dis gewoonlik hoe lank die bestelling geneem het) om verby te gaan nie.
Wanneer jy dus weer deur die Hantam ry, gaan slyp jou tande op Calvinia se bekende skaapvleis (dalk ’n rib op ’n klip gaargemaak), koop skuinskoek, drink tuisgemaakte gemmerbier en neem ’n foto van die rooi posbus.
Hou stil by die toerismekantoor en kry ’n poskaart en pos dit aan jouself –- en dalk kry jy ’n paar dae later so ’n “ietsie deur die pos”.

’n Poskaart uit Calvinia