Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Daar is groot fout in die SA polisie

2012-06-07 23:07
Daar is ’n baie groot skroef los in die topbestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Die sterk uitlatings deur regter Ephraim Makgoba eergister in die hooggeregshof in Pretoria toe hy bevind het daar is ’n prima facie-saak teen lt.genl. Richard Mdluli, die polisie se voormalige/huidige/voormalige intelligensiehoof, bevestig dit.

Boonop ontvou die Mdluli-katnes teen die agtergrond van die voortslepende sage oor genl. Bheki Cele, geskorste huidige polisiehoof wat tot ’n val gebring is weens sy aandeel in die verdagte huurkontrakte vir die polisie se hoofkwartiere in Pretoria en Durban.

Dit terwyl Jackie Selebi, vorige polisiehoof, in die tronk sit oor korrupsie.

Makgoba het in sy uitspraak gesê die aantygings teen Mdluli behels baie ernstige misdade wat spoedig ondersoek moet word.

Die regter het dit duidelik gestel dat die sage die geloofwaardigheid van die polisie en die regstelsel ondermyn.

Hy het verwys na bewerings van politieke inmenging en dit betreur dat die polisie se regspan dit nie betwis het nie.

Dis verregaande dat pres. Jacob Zuma dit nie eens nodig vind om sy verhouding met Mdluli te verduidelik nie.

Die traagheid om Mdluli te vervolg te midde van Mdluli se aanbod aan Zuma om hom te help teen sy teenstanders in die ANC verg ’n verduideliking.

Die Freedom Under Law-koalisie wat die aansoek ingedien het, verdien ’n pluimpie vir sy werk.

Dit wys dat die land ’n goeie Grondwet het waarmee die grondwetskrywers wou verseker dat gewone burgers swak besluite deur die regering in die hof kan daag.

Dit is een van die kernwaardes in die Grondwet – en dit is ’n uiters belangrike verskil tussen Suid-Afrika en ander lande waar politici hul mag misbruik.

Dis ’n klip in die maag om te dink belastingbetalers betaal telkens vir Mdluli se hofsake. Maar solank die regstelsel doeltreffend werk soos in Makgoba se hof, sal die wiel hopelik draai. 
«Terug