Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Regering het nie nóg mag nodig nie

2012-06-24 22:05
As pres. Jacob Zuma regtig ernstig is oor ’n “tweede oorgang” waarin armes die kans moet kry om te deel in die ekonomiese mag van die land, behoort hy vanoggend minister Angie Motshekga na sy kantoor te ontbied om te verduidelik wat gebeur met die aflewering (en vernietiging) van skoolboeke in Limpopo.

En het sy gelieg oor die afdanking van ’n amptenaar om haar eie bas te red?

Praatjies oor ’n tweede oorgang is sinneloos as die regering nie die mag wat hy reeds het, gebruik om beter onderwys te probeer verseker nie.

Onderwys is een van die hoekstene in die gebou van ’n gesonde staat. Zuma se regering doen nie naastenby genoeg om daardie hoeksteen te versterk nie.

Die skoolboek-sage in Limpopo is ’n jammerlike voorbeeld.

Die ANC-regering laat die land se mense in die steek, terwyl hy voorgee dis die Grondwet wat hom beperk.

Maar hy moet net sy werk doen.

Een van die tekens van sukses sal wees wanneer swart sakelui en ondernemers se ondernemers ’n groter deel van die mark verower en wanneer swart Suid-Afrikaners se lewenspeil styg omdat hulle hul merk gemaak het as suksesvolle beroeps- en sakelui.

’n Deel van die ANC mislei hulself en hul ondersteuners dat daar ’n kortpad is na ekonomiese sukses.

Dis ’n gevaarlike misleiding. In die politiek kan ’n party die mag bekom met groot getalle en met massa-optrede.

’n Ekonomie wat gebou is op dekrete van die staat en nie op werklike mededinging en prestasie nie, is gedoem om in duie te stort.

’n Ekonomie kan net werk as mense goed en toepaslik opgelei is. As hulle gedissiplineerd is en hard werk.

Dit begin by goeie onderwys, waar boeke afgelewer en gebruik word. En waar leiers verantwoordelikheid neem.

As Zuma met Motshekga praat om vas te stel wie regtig gelieg het, moet hy sommer ook vra wie is EduSolutions, hoe presteer hy en hoe het hy die kontrak gekry om boeke te versprei?

«Terug