Ras as wapen is die skuilplek van die swakkeling in politieke debat omdat ras iets is waaroor niemand beheer het nie en wat niemand kan verander nie.
Boonop is die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis die beste voorbeeld in die hele wêreld van hoe bar rasdenke as politieke rigter is.
Waarom het pres. Jacob Zuma dan by twee onlangse geleenthede ras as wapen aangewend toe hy onder druk kom?
Die eerste voorbeeld was sy reaksie op die skildery The Spear. Eerder as om dit met ’n kwinkslag te hanteer, soos ’n ruimer gees sou, het hy homself teatraal as slagoffer en as verpersoonliking van swart mense geteken.
So is die openbare diskoers oor die skildery weggestuur van skerp kritiek op ’n aspek van sy presidentskap na ’n vroeëre obsessie met swart mense se lywe.
Tweede voorbeeld: Donderdag se repliek op die presidensiële begrotingsdebat.
25 minute lank het Zuma voorbeelde gelys van die onmenswaardige behandeling van swart mense in vorige politieke bedelings.
Dit was opruiend, histories korrek en oorbekend. Die ietwat lae-oktaan eindpunt van sy retoriek? Dat daar ’n geskiedenis voor 1994 was.
Die doel was, baie soos met sy hantering van The Spear, om weg te stuur daarvan om op die substantiewe bydraes vanuit die DA, Cope, die VF+ die ACDP op sy regering se huidige suksesvlakke en toekomsvisie te reageer.
Hy het homself eerder geteken as slagoffer en verpersoonliking van swart mense.
Dit dui op ’n patetiese onvermoë tot debat as jy almal aanhaal wat met jou saamstem en almal ignoreer wat van jou verskil, soos Zuma gemaak het.
Maar daar broei dalk iets meer.
Die ANC weet hy is teleurstellend as regering. Voorbeelde is oral.
Maar selfs in tye van tenderpreneurskap en diensprotes kan Zuma twee staatmakerrolle steeds vertolk: slagoffer en verpersoonliking van swart mense.
Wees bedag dat juis dié twee rolle as ANC-verkiesingsveldtog aangewend kan word in 2014.