Die beroepskanale in ons staatsdiens is oorgeneem van die Britse stelsel, want dié het dit natuurlik in al hul kolonies ingestel.
Dié kanale is tegnies, vakkundig en administratief.
Hierdie indeling het ook posgevat in die industrie, die sakewêreld en alle semi-staatsinstellings.
Die oorsprong van die Engelse stelsel kan ’n mens terugvoer na die antieke Romeine.
Dié het met drie kastes gewerk: slawe, burgers en patrisiërs.
In die vroeë Engeland was dit arbeiders, gildenaars en adelstand.
Ná die nywerheidsrevolusie het hulle begin praat van tegniese werkers (blue collar), vakmanne (white collar) en administrateurs of eienaars (capitalists).
Die indeling van dié stelsel het ’n diepgewortelde implikasie van rangorde (en selfs van aangebore kaste-rangorde).
Van tegnies na vakkundig kan jy net vorder as jy jouself geweldig verbeter deur studie en ambisie.
Van vakman na administrateur vorder jy beswaarlik sonder die regte familiestamboom en allermins as jy nie kan afleer om iets konstruktiefs met jou hande te doen nie.
Alle besluitnemingsgesag berus by die administratiewe garde – van die klerk tot by die bestuurder is húlle diegene wat die mag het. Heel bo sit ’n regering wat (per definisie) super- klerke moet wees.
As ’n mens aan hierdie loopbaanindeling gewoond geraak het, kom dit as ’n verrassing dat nie alle kulture hierdie indeling volg nie.
Die Franse staatsdiens het byvoorbeeld ’n heel ander siening van loopbaankanale.
Enersyds is dit sekerlik omdat die Franse tydens húl revolusie hul hele adelstand ’n kop korter gemaak het ter wille van gelykheid en broederskap.
Andersyds is hulle ook minder tegnies en meer humanisties begaafd as die Engelse.
In elk geval is hul loopbaanklassifikasie eerder op menslike talente en eienskappe as op die funksionele behoeftes van die nywerheidstaat gegrond.
Die Franse onderskei drie loopbaan-rigtings: Die konseptualiseerders is diegene wat kreatief dink, beplan en bestuur.
Die uitvoerders is die entrepreneurs, doeners en bouers.
En die ondersteuners is diegene wie se talent en vreugde daarin lê om andere te help en te onderskraag in hul projekte.
Hier is ook geen rangorde geïmpliseer nie – ’n topondersteuner kan byvoorbeeld dalk eindig as minister en baie meer verdien as ’n konseptualiseerder wat ’n restaurant se spyskaarte uitdink.
Sodra jy mense se funksies begin sien in terme van verskillende talente, word jy ook bewus van hul onderlinge afhanklikheid in ’n stelsel (eerder as hul mag oor mekaar).
’n Stelsel met fantastiese konseptualiseerders en idees sit immers hopeloos verlam sonder doeners wat die insigte in aksie kan omskep.
Die doeners moet op die een of ander wyse die helpers oortuig om te help, eerder as om te onttrek (of nog erger, te saboteer).
Doeners en helpers is insgelyks gedoem om hul duime te draai sonder die visie van die konseptualiseerders.
Só reguleer die verskillende spesialiste mekaar se optrede op ’n wyse waar aksie net geneem word wat tot voordeel van die gemenebes lei.
En inderdaad is dít hoe alle stelsels in die natuur hulself regeer of reguleer.
Nie een spesie in ’n ekostelsel het regeringsmag oor die ander nie. In ’n miernes is daar geen kaste wat die sweep klap oor die ander nie.
Tog is daar noodwendig samewerking.
Dit lyk my die Franse loopbaangids is nie net meer menslik nie, maar ook meer natuurlik!