Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Kom ons noem dit liewer NOOD-wes

Deur: Lood se praatjies 2013-02-13 23:00

Baleka Mbete, Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa in Potchefstroom, waar hulle afgedwaalde ANC-skapies terug in die kraal gepiets het.


As die party dors is, dan moet hy drink. En omdat daar in die ANC se selfgeskepte diensleweringswoestyn niks anders is om te drink nie, vat hy dan maar nogmaals ’n slukkie uit daardie amper leë reddingskruik bekend as “naamsverandering”.

Vandaar die plan om Noordwes se naam na “Moses Kotane-provinsie” te verander.

Op ’n manier is dit nogal gepas om ’n Moses te betrek vir die naam van ’n provinsie wat al meer as sy billike deel van plae uit die ANC se warrelende veelvoud van dampkringe moes deurleef.

Lood kan ook nie help om te wonder wat die Pukke se universiteit onder so ’n bedeling sou heet nie. Dit kan tog nie “Noordwes-Universiteit” bly nie, kan dit?

Die ooglopende opsie is “Moses Kotane-Universiteit”, maar Lood vermoed die dag as dít gebeur, gaan daai standbeeld van Calvyn op die Potch-kampus homself summier in die fontein aan sy voete werp...

- En wat sal ’n mens dan die Pukke noem? Die Mossies? Die Kotaantjies?

Ek sien die see, ek sien die see!
As jy die adjunkpresident van Suid-Afrika is en jy kan net één geheime dokument saamneem as jy op ’n tropiese eilandparadys gestrand is, wat sou dit wees?

- Die presidensiële handleiding, natuurlik.

Platoniese assistent
’n Voormalige persoonlike assistent van Dan Plato, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, is blykbaar in die sop weens die besit van ’n verbode rookseltjie narkotika.
Vryburger, Lood se neef in Helen Zille-provinsie, reken Dan het dalk verkeerd verstaan toe sy op haar CV gesê het tik is een van haar voorliefdes...

Gepousjeerde eiers
Die mense sê dis geen toeval dat die pous besluit het om sy werk te los skaars twee maande nadat hy op Twitter doenig geraak het nie.

- Lood verneem ook hy gaan voortaan bekend staan as Ex-Benedict.

Hulle leer ook nie!
Die perdevleis in hul vleispasteitjies wat die Britte so op hol het, laat Lood terugdink aan ’n ou universiteitsvriend wat op ’n keer toe almal oor die kos gekla het, aan die tannie in die kombuis gesê het: “Tannie, ek gee regtig nie om dat julle ons perdevleis gee nie, maar hoekom moet ek altyd die saal kry?”

Wie sal nié hier wil leave nie?
Uit ’n mediaverklaring van Reginah Mhaule, Mpumalanga se LUR vir onderwys: “If only our schools were
like Freddy Sithole, our Province and our country could be a better place to leave in.”

Spontaneïteit kom nie vanself
Ook uit ’n politieke party se mediaverklaring vandeesweek: “Leiers sal deelneem aan ’n spontane betoging... ?Dit begin 13:00.”

Dié DA gaan ons mis
Met volgende jaar se verkiesing in gedagte dink Lood ’n Suid-Afrikaner was betrokke by die naamgee van daardie asteroïed wat môre by ons planeet gaan verbyskuur: DA14.
Elke paar jaar het dié ding die potensiaal om alles te ontwrig. Selfs die ANC sal nie ’n voltreffer oorleef nie. Môre sal dié stuk klip almal opgewonde maak en dan nogmaals skadeloos verbygaan...

- lood@beeld.com
«Terug