Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Kroaat skud Wimbledon met tirade

Deur: Reuters; Sapa-AFP 2012-06-29 01:00
LONDEN. – Die Wimbledon-establishment is gisteraand geskud toe die Kroaat Ivo Karlovic die geloofwaardigheid van dié tennistoernooi in ’n ongekende tirade in twyfel getrek het.

Karlovic het die Wimbledon-lynregters daarvan beskuldig dat hulle eenogig is nadat hulle 11 keer beslis het dat hy voetfoute begaan het.

Karlovic is in ’n spannende stryd in die tweede ronde met 7-5, 6-7, 6-2, 7-6 deur die Skot Andy Murray getroef.

Die Kroaat het gesê die beamptes is beïnvloed deur die feit dat Murray die skare se gunsteling is en het hom gevolglik voorgetrek.

“In my hele lewe, sedert ek agt jaar oud is, het ek nog nooit soveel voetfoute begaan nie.

Dis nooit geroep wanneer ek 30-stroop of 40-stroop voor was nie, maar elke keer met die telling op 30-elk of in ’n valbylpot.

“Wat is hierdie? Is dit die Davisbeker of Wimbledon? Ná hierdie wedstryd het die hele toernooi sy geloofwaardigheid verloor.

“Ná ’n paar voetfoute het ek ’n bietjie verder teruggestaan, maar hulle het my steeds bly penaliseer. Dis verregaande. Dis Wimbledon se hoofbaan en hulle doen dít? Dis sommer k-k,” het Karlovic uitgevaar.

Hy was nie die enigste speler wat ’n moeilike dag in die Grand Slam-toernooi beleef het nie.

Maria Sharapova, die nr.1-vrouespeler in die wêreld, het gesweet om die derde ronde van Wimbledon te haal nadat haar wedstryd teen Bulgarye se Tsvetana Pironkova deur reën onderbreek is.

Sy het eindelik met 7-6, 6-7, 6-0 geseëvier en kom nou teen Taiwan se Hsieh Su-wei te staan.

Die Rus en huidige Franse Ope-kampioen se kragmeting met Pironkova het reeds Woensdagaand begin, maar is weens reën stopgesit nadat Sharapova herhaaldelik daarvoor gevra het.

Sy het met 3-1 voorgeloop in die tweede stel toe haar wens bewaarheid is, maar dit het gister geboemerang toe spel hervat is en Pironkova die tweede stel gewen het.

“Ek het vandag (gister) so stadig begin terwyl sy (Pironkova) uit die staanspoor goed gespeel het,” het Sharapova aan Reuters gesê.

Sy het haar ondanks 10 dubbelfoute en 30 ongedwonge foute in die derde stel reggeruk en dit heeltemal oorheers om almal te herinner dat sy steeds ’n gunsteling in die toernooi is.

Dit was ook nie eenrigting-verkeer vir die Fransman Jo-Wilfried Tsonga nie in sy stryd teen die hardnekkige Guillermo Garcia-Lopez van Spanje nie.

Tsonga het teen die verwagting in die eerste stel met 6-7 verloor, maar goed teruggeveg om die volgende drie met 6-4, 6-1, 6-3 te wen.

Tsonga het gedissiplineerd vertoon en slegs nege ongedwonge foute in die hele wedstryd gemaak.

Die sesde gekeurde vrou en ’n viermalige Wimbledon-kampioen, Serena Williams, is op ’n drafstap deur na die derde ronde toe sy Hongarye se Melinda Czink met 6-1, 6-4 geklop het.

Teen druktyd gisteraand was Rafael Nadal in ’n titaniese vyfstel-stryd teen die onbesonge Lukas Rosol van die Tsjeggiese Republiek gewikkel.

Nadal het die eerste stel ná ’n lang valbylpot (11-9) gewen, waarna Rosol teruggeveg en die volgende twee stelle gewen het.

Nadal het die vierde stel in die skemer gebuit waarna spel vertraag is sodat die vyfde stel onderdak voltooi kon word.

«Terug