Beeld

Stander mis podium met 5 sek.

Deur: Marizanne Kok 2012-08-12 20:38
LONDEN. – Net 5 sekondes!

Dít was al wat gistermiddag hier tussen Suid-Afrika se bergfietsryer Burry Stander en ’n plek op die Olimpiese podium gestaan het.

Stander, wat ’n verdienstelike vyfde plek losgejaag het, was een van die gunstelinge vir ’n medalje in die bergfietsry ná ’n seisoen waarin hy tweede in die Wêreldbeker-reeks geëindig het en hom as een van die voorste jaers ter wêreld gevestig het.

Gister was dit nie sy dag nie, want die medalje-trio van Jaroslav Kulhavy (Tsjeggiese Republiek), Nino Schurter (Switserland) en Marco Aurelio Fontana (Italië) het van die eerste rondte af die pas aangegee.

Kulhavy het Schurter met ’n sekonde geklop in ’n wentyd van 1 uur, 29 minute en 7 sekondes.

Fontana se bronsmedalje-tyd was 1:29:32 en Stander het die ren oor 34.1 km in 1:29:37 voltooi.

“Ek het natuurlik my oog op die podium gehad, maar ek was nie sterk genoeg nie,” het Stander gesê.

“Die drie ouens wat die medaljes gewen het, het dit regtig verdien – hulle het reeds in die eerste rondte weggebreek en die voordeel deurgaans behou.

“Ten minste kan ek sê ek het niks daarbuite gelos nie. Ek het my absolute alles gegee.”

Stander het twee keer kortstondig die voortou geneem, maar was die grootste deel van die ren in die vierde plek. Sy aanslag het gesneuwel in die vierde rondte, toe ’n ander jaer sy balans op die rotse verloor het en Stander se momentum gebreek het. Dit het die gaping tussen hom en die voorste drie te wyd gerek.

“Ek is nie in sak en as nie. Die Spanjaard wat my aan die einde om vierde geklop het (José Antonio Hermida Ramos) is al 34, so realisties gesproke het ek nog so drie kanse om Olimpiese goud te jaag. En ek voel nie asof ek vandag (gister), of in die aanloop, enigiets verkeerd gedoen het nie,” het Stander gesê.

“Ek was gesond, ek was sielkundig reg vir die uitdaging en my voorbereiding het verloop soos ek dit wou gehad het. Maar hierdie is ’n regverdige sportsoort – jy kry wat jy insit.

“Vandag (gister) was daar jaers wat meer as ek kon gee en meer uitgekry het.”

Philip Buys, die tweede Suid-Afrikaner in die bergfiets-kompetisie, was 35ste in sy Olimpiese debuut. Buys het geval in die eerste rondte en nie herstel nie.

- Die marathon vir mans het ook nie ’n podium-uitslag vir Suid-Afrika opgelewer nie.

Stephen Mokoka was ’n groot deel van die marathon binne trefafstand van die voorlopers, maar het aan die einde lelik stoom verloor.

Oor die laaste 10.2 km het hy met 43 plekke teruggesak, van 6de plek ná 30 km tot 49ste aan die einde, met ’n tyd van 2:19:52.

Lusapho April was 43ste in 2:19.00 en Coolboy Ngamole, wat nie die marathon kon voltooi nie.

Die Ugandees Stephen Kiprotich het sy land se eerste goue medalje in 40 jaar verower. Hy het in 2:08:01 gewen.
 
«Terug