LONDEN. – Die spiesgooier Sunette Viljoen het gister gewys wat in haar steek toe sy met ’n yslike gooi van 65.92 m vir die Olimpiese eindronde gekwalifiseer het.
Viljoen, wat vroeër vanjaar ’n wêreldbeste van 69.35 gegooi het, het gister sonder om te sweet deurgedring tot môreaand se eindronde met die derde beste gooi van die uitdunne.
Sy het dié afstand reeds met haar eerste – en uiteindelik enigste – gooi bereik.
“Ek is só gelukkig, so tevrede met daardie gooi,” het sy gejubel. “Dis oor 65 meter, so ek is in die wolke.”
Net die heersende Olimpiese kampioen, Barbora Špotáková (66.19) en 2008 se bronsmedalje-wenner, Christina Obergfoll (66.14) kon die spies gister verder as Viljoen gooi. Die 28-jarige Rustenburger is vanjaar vir die derde keer in haar loopbaan op die Olimpiese Spele in aksie, maar kon nie in 2004 in Athene of in 2008 in Beijing vir die eindronde kwalifiseer nie.
Maar die Viljoen van 2012 is ’n perd van ’n gans ander kleur – sy het haar persoonlike beste afstand immers in ál drie die laaste seisoene verbeter en het haarself gevestig onder die room van wêreld-spiesgooi.
“Dit (om die Olimpiese eindronde te haal) is iets waarvan ek gedroom het en verskriklik hard voor gewerk het, so dis ongelooflik.
Ek het soveel goeie wense en boodskappe van voorspoed uit Suid-Afrika gekry, so ek is bly vir myself en vir my land. As ek dalk met ’n medalje wegstap sal dit baie spesiaal vir myself en Suid-Afrika wees – en dis lekker om te weet daar is vertroue in jou by die huis.”
Viljoen het gesê sy weet sy is in staat tot medalje-sukses.
“Ek is vinnig, ek is sterk en ek glo. So enigiets is moontlik.”
- Viljoen se sukses was die hoogtepunt van ’n blink oggend in die Olimpiese Stadion vir Suid-Afrika.
Die 110m-hekkiesloper Lehann Fourie het die dag goed begin, toe hy tweede in sy uitdun geëindig het in 13.49 sekondes. Dié tyd is net-net stadiger as sy persoonlike beste van 13.44.
Die eerste drie atlete in elke uitdun het vir vanaand se halfeindronde gekwalifiseer. Die Amerikaner Aries Merritt se 13.07 was die vinnigste tyd.
Nie lank daarna nie het die belowende 200-naelloper Anaso Jobodwana ’n tyd van 20.46 sekondes in sy uitdun gehardloop om ook tweede te eindig.
Jobodwana, wat net verlede week sy 20ste verjaarsdag gevier het, sal vanaand in dieselfde halfeindronde as die titel-gunsteling Usain Bolt (wat gister ’n 20.39 opgestel het) hardloop.