JOHANNESBURG. – Die Suid-Afrikaanse krieketspan sal sy blitsoorlog teen Nieu-Seeland nou ook sonder een van sy héél groot kanonne moet voer.
AB de Villiers is gister onttrek aan die Proteas se groep vir die reeks van drie T20-wedstryde, wat oormôre in Durban begin.
Dít volg ná die 28-jarige Pretorianer se versoek aan die Suid-Afrikaanse spanbestuur om hom nie vir die blitskragmetings te oorweeg nie.
De Villiers is verlede week in die aanvanklike groep ingesluit, maar hy is van die kaptein- en paaltjiewagterskap onthef in ’n poging om hom vir die toetsreeks teen die Swartpette te laat uitrus.
Hy het ’n leidende rol gespeel in die Proteas se onlangse toetssukses in Engeland en Australië – maar veral sy rol as paaltjiewagter het sy knaende rugbesering die laaste ruk vererger.
Faf du Plessis sal die eerste keer ’n Protea-span vol nuwelinge lei teen die Kiwi’s, terwyl die Lions se opwindende jong Quinton de Kock agter die paaltjies sal stelling inneem.
“Dit was ’n uitmergelende laaste paar maande en ek sal graag meer ruskans wil hê voor die toetsreeks,” het De Villiers gister in ’n verklaring verduidelik.
“Dis om dié rede dat ek gevra het om aan die groep onttrek te word en ek is baie dankbaar dat my versoek toegestaan is.”
Volgens Russell Domingo, die Proteas se nuwe T20-afrigter, is die verlies van De Villiers ’n gevoelige slag.
“AB is ’n baie belangrike deel van ons planne en hoewel ons graag sou wou hê dat hy moes deel wees van dié reeks, is dit nóg belangriker dat hy heeltemal fiks en slaggereed is vir die res van die toer.”
Andrew Hudson, die nasionale keurderbaas, het bevestig dat die Cobras-kaptein, Justin Ontong, De Villiers se plek in die span sal inneem.
Ontong was een van die Kapenaars se uitblinkers in die onlangse eendagbeker-reeks, waarvan die trofee gedeel moes word toe reën spel in die eindstryd tussen die Cobras en die Lions in die wiele gery het.
“Justin is reeds geruime tyd deel van ons groep in blits- en kitskrieket en hy het in die eendagreeks opnuut sy waarde onderstreep as ’n kolwer wat ’n wedstryd kan afrond,” het Hudson gesê.
“Hy is boonop ’n uitstekende veldwerker en ’n meer as bruikbare draaibouler.
“Ons is baie bevoorreg dat ons ’n speler van sy gehalte het om AB te vervang.”
Ontong sal hom na verwagting vandag by die Proteas in Durban aansluit nadat hy gister in Pietermaritzburg die Suid-Afrikaanse A-span in ’n T20-oefenwedstryd teen die Kiwi’s op die veld gelei het.
- Intussen het Brendon McCullum, die Nieu-Seelandse kaptein, die tuisspan gewaarsku teen die Swartpette se jong Corey Anderson en Mitchell McClenaghan.
Dié linkerhandse snelboulers behoort albei hul internasionale buiging te maak op Kingsmead in Durban en volgens McCullum kan hulle die Suid-Afrikaanse kolwers verras.
“Ons het ’n paar boulers met heelwat vaart. Hulle het nóg nie die rekords van ’n Dale Steyn of ’n Morné Morkel nie, maar hulle het baie vaardighede,” het McCullum aan ESPNcricinfo.com gesê.
“Suid-Afrika is ’n uitstekende span en hy het die wen-momentum aan sy kant.
“Hopelik kan ouens soos Corey en Mitchell wys waartoe hulle in staat is, en kan ons Suid-Afrika se meer onervare kolwers vroeg onder druk plaas,” het McCullum gesê.
74
Dís hoeveel dae AB de Villiers die afgelope jaar vir Suid-Afrika op die krieketveld deurgebring het. Altesaam 50 daarvan was in toetse, 13 in eendagwedstryde en 11 in T20-kragmetings.