Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Groenes blink uit teen SA A

Deur: Johann de Jager 2012-12-18 23:50
BLOEMFONTEIN. – Twee van die Kiwi’s se handvol groentjies was gister in Pietermaritzburg hul kolf- en boulheld in hul T20-opwarmwedstryd teen Suid-Afrika se naasbestes.

Die Nieu-Seelanders het ondanks hul 140/8 steeds met 24 lopies gewen nadat die SA A-krieketspan tot 116/9 beperk is.

Onderlangs is gemor oor die Oval-blad wat oudergewoonte droog en stadig was – straks die teenoorgestelde van wat Vrydag op Kingsmead wag.

Colin Munro (39, 27 b) het weliswaar vroeg in sy kolfbeurt oorleef waarna Mitchell McClenaghan (3/19) die tuisspan dadelik onder druk geplaas het.

Om ’n middelmatige totaal te verdedig, was dit belangrik om vroeg toe te slaan en dis presies wat dié haastige hotklou reggekry het.

Die aanvangsbouler het met sy 4de, 7de en 14de aflewerings die paaltjies van Davy Javobs (4), Stiaan van Zyl (1) en Dane Villas (11) gekry.

McClenaghan het gesê dit was ook waarom hy al vier sy boulbeurte op ’n ry afgestuur het. “Ons wou hulle op die agtervoet kry en toe ons eers ons voet teen die keel gekry het, wou ons dit daar hou.

“Ek het dit rêrig geniet. Dit was goed om die senuwees wat daar was voor Vrydag se stryd weg te kry.”

“Die blad is waarskynlik stadiger as wat ons in Durban gaan kry. Dis dalk meer soos dié in Oos Londen en Port Elizabeth. So dit was in dié opsig goed vir ons.”

Die draaier Ronnie Hira (3/35) het tussenin ook sy kant gebring.

Die SA A-kaptein, Justin Ontong, sê hul kolfwerk was baie teleurstellend.

“As ons ’n paar vennootskappe aan die begin aan die gang kon kry, kon ons die wedstryd gewen het.

“Vaughn van Jaarsveld (43, 43 b) het mooi gekolf, as ons net iemand gehad het wat ’n bietjie langer saam met hom kon vasgeskop het.”

Die Dolphins-naatbouler Kyle­ Abbott het vroeër met 4/16 op sy vorige beste T20-boulvertoning verbeter. 
«Terug