Londen. - Kevin Pietersen is Dinsdag ook uit Engeland se T20-krieketspan gelaat vir die Wêreldtoernooi wat aanstaande maand in Sri Lanka begin.
Dié Suid-Afrikaans-gebore kolwer was die Speler van die Toernooi toe Engeland die Wêreldtoernooi in 2010 in die Karibiese Eilande gewen het.
Hy is onlangs uit Engeland se toetsspan vir die derde toets teen Suid-Afrika op Lord's gelaat oor SMSé wat hy glo aan spelers in die Suid-Afrikaanse span gestuur het. Hy het na bewering Engeland se kaptein, Andrew Strauss, in dié boodskappe gekritiseer.
Pietersen, wat hom onlangs weer vir Engeland beskikbaar gestel het vir alle weergawes van die spel nadat hy vroeër gesê het hy tree uit eendagkrieket, is ook uit Engeland se eendagspan en T20-span vir die komende reekse teen Suid-Afrika gelaat. - Sapa-AFP