PRETORIA – Die Bulls het in die onlangse
verlede met redelike sukses die Chiefs gegaffel, maar volgens hul kaptein,
Pierre Spies, gaan dit nie Vrydag enige welslae verseker nie wanneer dié twee
Super-rugbyspanne in Hamilton slaags raak.
“Ons het dalk ’n klomp ouens in die span wat weet wat dit verg om
die Chiefs te klop en die nodige ervaring het om dit weer te doen, maar as ons
nie as ’n span ons taak perfek gaan uitvoer nie, gaan dit ons nie veel help
nie,” het Spies gister uit Auckland gesê.
Die span reis môre Hamilton toe.
“Die ouens weet dat ons die toer op ’n fantastiese noot kan afsluit
deur te wen en het voorheen die Chiefs geklop, maar dié Chiefs-span is totaal
anders as vorige jare,” het die kaptein gemaan.
“Hulle speel heeltemal anders as voorheen en het nuwe sterkpunte en
dit is waarom hulle bo-aan die Nieu-Seelandse puntelys is.
“Ons het tot dusver goed voorberei en die groep besef die omvang
van ’n sege.
“Daar is dus baie motivering om goed te doen. Verlede week se
onderprestasie (nederlaag teen die Highlanders) kan ook reggestel word.”
Hy het, soos hul afrigter, Frans Ludeke, bevestig dat die span
tevrede is met sy poging in die eerste drie maande van die Super-reeks.
“Ons eerste doelwit was om goed te begin.
“Dit is gedoen en dit het ons gehelp om die nodige momentum te kry.
“Daar volg egter nou ’n kritieke fase vir ons en ons sal daardeur
moet kom en baie goed doen as ons ’n tuishalfeindstryd wil hê.”
Ludeke het self sy tevredenheid uitgespreek en dit aan die spelers
gewys deur slegs een verandering aan te bring aan die span wat teen die
Highlanders (met 11-16) kortgekom het.
Wilhelm Steenkamp en Juandré Kruger ruil plekke as nr.?5-slot en
plaasvervanger vanweë die afrigter se rotasiebeleid.
Steenkamp het in week sewe – teen die Lions in Johannesburg – laas
begin en sal die enjinkamer saam met Flip van der Merwe beman, met Kruger wat
afskuif bank toe.
“Ons het ‘n rotasiebeleid in sekere posisies en die spelers is
vertroud daarmee,” het Ludeke gesê.
“Wilhelm het tot dusver goeie spel van die bank gelewer, so ek het
nie enige probleme om hom in die beginspan te sien nie.
“Juandré gaan uiteraard ’n belangrike rol van die bank af moet
speel, veral teen ’n afgeronde span soos die Chiefs.
“Hy gaan ’n ewe groot rol van die bank af moet vervul as in die
beginspan.”
)?Die span (met Super-wedstryde)
is: Zane Kirchner (65), Akona Ndungane (78), Johann Sadie (16), Wynand
Olivier (96), Bjorn Basson (36), Morné Steyn (100), Francois Hougaard (39),
Pierre Spies (83, k), CJ Stander (11), Dewald Potgieter (48), Wilhelm Steenkamp
(46), Flip van der Merwe (43), Werner Kruger (69), Chiliboy Ralepelle (46), Dean
Greyling (24). PLAASVERVANGERS: Willie Wepener (47), Rayno Gerber (36), Juandré
Kruger (11), Arno Botha (8), Jano Vermaak (82), Louis Fouché (6), JJ Engelbrecht
(11).