Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Bjorn lank uit ná noodoperasie

Deur: Pieter Jordaan 2012-07-22 23:01
JOHANNESBURG. – Bjorn Basson, ’n Springbok-vleuel van die Bulls, sal sowat twee maande nie kan rugby speel nie nadat hy gisteroggend vroeg weens ’n geskeurde dunderm ’n noodoperasie in Christchurch ondergaan het.

Basson is kort voor die rustyd in die Bulls se teleurstellende nederlaag van 13-28 in ’n Superrugby-uitklopstryd teen die Crusaders, van die veld.

’n Teenstander se knie het hom in die maag getref toe albei gespring het om ’n bal te vang.

Hoewel Basson op die veld gebly het in die hoop dat hy sal herstel, is hy later noodgedwonge deur Francois Venter vervang.

In die hospitaal is vasgestel sy dunderm is geskeur en hy het om 03:00 ’n noodoperasie ondergaan.

Hy moet vyf dae lank in die hospitaal in Christchurch deurbring voordat hy na Suid-Afrika kan terugkeer.

Volgens Barend van Graan, die uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy, het die spandokter, Org Strauss, eers saam met Basson agtergebly terwyl die res van sy spanmaats reeds gisteroggend vroeg na Sydney vertrek het.

Hulle kom vandag in Suid-Afrika aan.

Basson sal tussen ses en agt weke lank nie kan rugby speel nie, wat beteken hy sal nie vir die Springbokke se eerste kragmetings in die Rugby-kam­pioenskap met Argentinië, Australië en Nieu-Seeland beskikbaar wees nie.

Dis ’n groot terugslag, aangesien die haastige Basson ’n goeie seisoen beleef en een van die Bulls se beste spelers in hul 2012-veldtog was.

Dié veldtog het Saterdag in Nieu-Seeland geëindig.

Benewens Basson, is hul haker, Chiliboy Ralepelle, en Basson se vleuelmaat, Akona Ndungane, ook met beserings van die veld.
 
«Terug