Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Bloem-pes trek 10 Bulle plat voor Haaie-stryd

Deur: Marco Botha 2012-08-20 23:09
PRETORIA. – In hierdie einste week dat die Blou Bulle die Piesangboere hier vir ’n Curriebeker-rugbywedstryd moet ontvang, blyk daar ’n tekort aan appels in hul dieet te wees.

Hul spandokter, Org Strauss, het immers nie gister op hom laat wag nie. Hul afrigter, Pine Pienaar, en 10 van sy spelers het Strauss met simptome van verkoue besoek, en hulle sal hopelik vandag weer kan oefen.

Die Haaie speel Saterdagaand hier op Loftus Versfeld en hulle is die enigste onoorwonne span in vanjaar se Curriebeker-reeks.

Die Bulle het daarteenoor ’n goeie begin teen Griekwas met ’n swak wedstryd in Bloemfontein opgevolg, waar hulle Vrydag met 18-32 teen die Vrystaat-Cheetahs vasgeval het.

Maar daardie loesing is nie al wat hulle in die Rosestad gekry het nie.

Toe Victor Matfield gister as konsultant sy Maandag-sessie met die voorspelers gehad het, was maar ’n handjievol van die ou hande teenwoordig.

Pienaar het moedig langs die veld gestaan met ’n plaatjie pynpille in sy regterhand, totdat die son hom bed toe gedwing het.

Voorts sal hy eers môre voor die spanaankondiging weet of sy kaptein, Dewald Potgieter, en losvoorspeler Arno Botha vandeesweek sal kan speel.

Albei is twee naweke terug teen Griekwas beseer. Botha het ’n dyspier gerek en is veronderstel om weer môre te oefen.

Potgieter het ’n hou naby aan die lies weg en het hom daarom Donderdag voor die Bulle se kapteinsoefening in Bloemfontein aan die span onttrek.

Wat dus aanvanklik net na ’n ligte skeet gelyk het, het nou in ’n steekse besigheid ontaard wat nie op behandeling reageer nie.

Matige goeie nuus is wel dat daar geen nuwe beserings was teen die Vrystaat nie en dat Pienaar vir hierdie kritieke wedstryd veronderstel is om sy sterkste span te kan kies – mits die Bloempes wyk.

En dit gaan nodig wees. Die Haaie het Saterdag hul wedstryd met 30-14 teen ’n goeie Leeus-span gewen.

Dit het maar ’n wyle gevat om op dreef te kom, maar toe hulle net-net begin om die vyfde rat te haak, was dit neusie verby met die Curriebeker-kampioene.

Een van die groot sterre in daardie wedstryd was die Haaie se haker, Craig Burden.

Daar word al ’n wyle in Durban gemor omdat hy nog nie ’n Springbok is nie.

Maar die Bok-haker, Bismarck du Plessis, se besering teen die Argentyne het die gety in Burden se guns geswaai – en straks in die Bulle s’n ook.

Hy sal dus nie Saterdag uitdraf nie, en daarmee verloor die Haaie heelwat slaankrag.

«Terug