Beeld

‘Boere-Britte’ Barritt, Botha smeer hul vet

Deur: Christo Buchner 2012-06-05 22:51
JOHANNESBURG. – Die twee gebore Suid-Afrikaners in Engeland se rugbyspan staal hulle vir ’n kwaai verbale aanslag van die Springbokke.

“Ons sal waarskynlik deurloop, soos Kevin Pietersen by die Engelse krieketspan onder die Suid-Afrikaanse tonge deurgeloop het,” glo Mouritz Botha en Brad Barritt.

Dié twee sal Saterdag van die steunpilare in die Engelse aanslag in die eerste toets teen die Bokke op Kingspark in Durban wees.

As hulle raad wil hê oor hoe om die verbale aanslag te verwerk, kan hulle kers opsteek by hul agterlyn-afrigter, Mike Catt.

Die Springbokke het hom in sy speeldae woes met die tong geroskam oor dinge wat hy glo van Francois Pienaar sou gesê het.

Die 30-jarige Botha het aan The Telegraph gesê hy is baie trots op sy Suid-Afrikaanse herkoms, maar dat sy heil nou in Engeland lê.

Hy het agt jaar gelede vir hom ’n rugbytoekoms in Engeland gaan soek. Hy was eers ’n matwasser en het asbesdakke skoongeskraap, voordat hy uiteindelik ’n kontrak by Saracens gekry het.

“Ek sal mense soos Brendan Venter en Stuart Lancaster altyd dankbaar wees vir die kanse wat hulle my gegee het,” het Botha gesê.

“Ek glo die Springbokke sal my Saterdag dinge toesnou, maar ek is 30 jaar oud en het geleer hoe om met die uitdagings in die lewe saam te leef.

“Ek het hard gewerk om te kom waar ek nou in die lewe is – en wat wie ook al vir my sê, sal soos water van ’n eend se rug afloop.”

Sy ouers, wat in Calvinia in die Noord-Kaap woon, sal Saterdag op Kingspark wees om hul seun te ondersteun.

Barritt, die gewese Sharks-speler wat weens sy Engelse grootouers gekwalifiseer het om vir die Rose te speel nadat hy drie jaar gelede sak en pak daarheen is, het gesê hy staal hom vir ’n baie fisieke aanslag van die Bokke.

“Heyneke Meyer (afrigter) het sy sukses by die Bulls behaal met ’n baie fisieke agttal en uitstekende taktiese skopwerk. Dít glo ek sal die resep wees wat hy ook by die Bokke sal gebruik.

“Ons vrees die Springbokke glad nie en sal hul uitdaging vierkant in die oë kyk,” het dié oud-leerling van Kearsney College gesê.


Mauritz Botha het agt jaar gelede vir hom ’n rugbytoekoms by Saracens in Engeland gaan soek. Foto: GETTY IMAGES

 
«Terug