Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

'Bok-beserings kan krisis word'

Deur: Stephen Nell 2012-08-07 21:49
KAAPSTAD. – Die lang rugbysei­soen het reeds sy tol op die Springbokke geëis, maar ons het nog niks gesien in terme van die uitputting wat in die toekoms op top-spelers wag nie.

Dít was vandeesweek die kommerwekkende vooruitskouing van die Bokke se spandokter, Craig Roberts, wat vrees dat aanstaande jaar veel erger kan wees.

“Die beserings waarmee ons sit, getuig van die lang seisoen wat ’n tol eis. My groot kommer is eintlik aanstaande jaar indien ons volhard met die hoeveelheid rugby wat dié seisoen gespeel is,” het Roberts gesê.

“Met verlede jaar wat ’n Wêreldbeker-seisoen was, het spelers dié seisoen nog die voordeel gehad van rus en ’n deeglike voorseisoen. Vanjaar is dus eintlik nie eers so erg nie. Ons kan aanstaande jaar by erge vlakke van uitputting kom.”

Die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, het vandeesweek die slegte nuus gekry dat die veelsydige agterspeler JP Pietersen (duimbesering) vir tussen ses en agt weke op die krukkelys sal wees.

Meyer sal straks óók nie sy eerstekeuse-slotpaar kan inspan nie, met Eben Etzebeth wat gister ’n spesialis oor sy heupbesering geraadpleeg het.

Die bestuur van spelers voor en ná die Super-reeks, én die Sharks se betrokkenheid in die eindstryd, het Meyer se kopsorge vererger.

“Ek is nie tevrede met die fiksheidsvlakke nie en ons wil dit opskerp,” het hy gesê.

“Hierdie was die enigste week wat ek gedink het ons hard sou kon oefen en ons sou dit dan aanstaande week rustig kon vat. Ons moes egter ons beplanning verander.”

Behalwe vir Pietersen en Etzebeth, is nie een van Schalk Burger, Duane Vermeulen, Heinrich Brüssow, Juan Smith (almal losvoorspelers), Coenie Oosthuizen, CJ van der Linde (albei stutte) en Bjorn Basson (vleuel) weens beserings beskikbaar nie.

’n Stap wat Meyer baie kan help, is die ruskans wat van die Bokke tydens die Curriebeker-reeks gehad het. Daar sal nog drie naweke oor wees nadat Suid-Afrika se veldtog in die Rugby-kam­pioenskap geëindig het.

Die Bokke speel twee weke ná die Curriebeker-eindstryd, op 27 Oktober, die eerste toets van hul jaareind-toer – teen Ierland in Dublin.

“Ons het met die provinsies ooreengekom dat die groep van 30 op ’n oefenkamp sal wees tydens die tuiswedstryde in die Rugby-kampioenskap,” het die SA Rugbyunie (Saru) se uitvoerende hoof, Jurie Roux, gesê.

“Die groep sal tot 26 verklein word vir die wegwedstryd teen Argentinië, en dán tot 28 uitgebrei word vir die toer na Australië en Nieu-Seeland.

“Dit sal in ’n ideale wêreld in die Springbokke se belang wees vir die spelers om vóór die jaareind-toer op ’n oefenkamp te wees, maar daar is nie ’n formele ooreenkoms daarvoor nie.”

Meyer is beslis nie van plan om met ’n verswakte span teen Ierland, Skotland en Engeland te speel nie.
«Terug