PRETORIA. – As die Jakarandastad wesenlike berge gehad het, sou die Blou Bulle-breier, Pine Pienaar, sy oë vanoggend soekend na hulp daarteen opgeslaan het.
Hy het gister sy span van 22 spelers aangekondig vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd op Loftus Versfeld teen die Haaie.
Maar toe hy vroegoggend met ’n naamlysie langs die oefenveld ’n bestekopname maak, was 11 spelers steeds met griep in die bed.
Die Bulle sal vanoggend weer probeer oefen, en as die “gogga” wat die span verlede week in Bloemfontein opgetel het, nog nie teen die oormag voorgeskrewe medikasie gesneuwel het nie, sal die afrigter genoop word om amper ’n dosyn o.21-spelers te betrek.
Die Haaie is die enigste onoorwonne span in die reeks.
As die Bulle se span bly soos hy nou lyk, is daar vier veranderinge aan die een wat teen die Vrystaat verloor het.
Johann Sadie begin as buitesenter en Dewald Potgieter keer as agtsteman terug.
CJ Stander skuif steelkantflank toe, met Grant Hattingh wat van daar af na nr. 5-slot verskuif – volgens Pienaar om meer beweeglikheid in die lynstane én oor die veld te verskaf.
Die Springbok Werner Kruger vervang Frik Kirsten as vaskop om meer ervaring na die agttal te bring nadat die Vrystaat hulle in die skrum gekarnuffel het.
Die Haaie het twee gedwonge veranderinge gemaak.
Die voormalige Jong Bok-haker Monde Hadebe vervang Craig Burden (Bok-toer), en Marius Joubert neem Meyer Bosman (knie) se plek op binnesenter oor.
- Die spanne is:
Blou Bulle: Jürgen Visser, Akona Ndungane, Johann Sadie, Francois Venter, Clayton Blommetjies, Louis Fouché, Ruan Snyman, Dewald Potgieter (k), CJ Stander, Deon Stegmann, Grant Hattingh, Wilhelm Steenkamp, Werner Kruger, Willie Wepener, Dawie Steyn.
PLAASVERVANGERS: Robbie Coetzee, Frik Kirsten, Cornell Hess, Arno Botha, Rudy Paige, Lionel Cronjé, Jan Serfontein.
Haaie: Louis Ludik, Odwa Ndungane, Paul Jordaan, Marius Joubert, Sibu Sithole, Charl McLeod, Jacques Botes, Jean Deysel (k), Francois Kleinhans, Anton Bresler, Steven Sykes, Wiehahn Herbst, Monde Hadebe, Dale Chadwick.
PLAASVERVANGERS: Franco Marais, Julian Redelinghuys, Jandré Marais, Lubabalo Mtembu, Brynard Stander, Cobus Reinach, Gouws Prinsloo.