JOHANNESBURG. – Gerugte wil dit hê dat Butch James binnekort sy rugbyloopbaan by sy geliefde Haaie sal afsluit en daarmee ’n einde aan sy kort tyd as speler by die Lions en Goue Leeus sal maak.
James is nog tot in Oktober by die GLRU gekontrakteer, maar gerugte doen die ronde dat hy een van die dae weer vir die Haaie kan uitdraf.
Die Leeus sal James nie weer ’n kontrak aanbied wanneer sy huidige een vanjaar verstryk nie.
Met die Haaie se Frederic Michalak wat binnekort na Frankryk terugkeer en Pat Lambie wat weens Springbok-verpligtinge min Curriebeker-rugby sal speel, kan die Haaie ’n leemte op losskakel in die reeks hê.
John Plumtree, afrigter van die Sharks en die Haaie, het aan Christo Buchner gesê hy weet niks van ’n moontlike terugkeer na Durban vir James, wat vroeër in sy loopbaan 65 wedstryde vir die Haaie en 57 vir die Sharks in Super-rugby gespeel het, nie.
“Maar as die Leeus hom vrystel, sal ons natuurlik in hom belangstel,” het Plumtree gesê.
James het hom in Mei 2011 by die Leeus aangesluit nadat hy vir Bath in Engeland rugby gespeel het.
Sedertdien het hy slegs in 13 Super-wedstryde vir die Lions en drie Curriebeker-wedstryde vir die Goue Leeus gespeel.
Hy draf môre as binnesenter vir die Lions teen die Stormers uit en het in die Lions se laaste wedstryd ’n sleutelrol in die skoksege oor die Sharks gespeel.
Daar is ook vandeesweek beweer dat James sowat R100 000 van sy veel groter maandelikse salaris by die GLRU kan kwyt wees aangesien hy weens ’n skorsing onlangs vir vier weke nie vir die Lions kon speel nie.
Daarom het hy glo versuim om sy kontraktuele verpligtinge na te kom.
Ruben Moggee, waarnemende uitvoerende hoof van die GLRU, het gesê hoewel hy ook niks van ’n Haaie-skuif vir James weet nie, sal die unie James nie keer as hy ander keuses wil oorweeg nie.
“Ons sal Butch ondersteun in die besluite wat hy wil neem as hy tussen nou en einde van die jaar ander geleenthede sou kry.
“Omdat sy kontrak vir volgende jaar nie verleng is nie, sal hy ons steun hê as hy wou skuif,” het Moggee gesê.