BUENOS AIRES. – Die Springbok-kaptein, Jean de Villiers, is eerlik genoeg om te erken dat sy span Saterdag maar bra middelmatig in sy sege van 27-6 oor Argentinië in die Rugby-kampioenskap was.
Vandeesweek in Mendoza, Argentinië, verwag die Bokke boonop ’n veel sterker aanslag as toe die Poemas-span Saterdag op Nuweland duidelik sy tong op die groot verhoog ingesluk het, juis toe hy moes sing.
Dit beteken De Villiers se span sal ook heelwat moet verbeter, selfs al was ’n Bok-nederlaag op Nuweland nooit juis ter sprake nie.
“Dit was ’n middelmatige vertoning van ons, ja,” het De Villiers Sondag kort ná die Springbokke se aankoms hier gesê. Hulle het gister na Mendoza vertrek.
“Daar was vir seker ’n paar positiewe dinge ook, maar daar lê baie werk vir ons voor om in die Rugby-kampioenskap te verbeter.”
Dit is juis omdat die Argentyne se gebruiklike groot wapens, hul skrumwerk en taktiese skoppe, op Nuweland so swak was, dat die Bokke lugtig moet wees vir wat in Mendoza kan wag.
Die Suid-Afrikaners was selde gevaarlik met hul besit, selfs al het hulle soveel afdelings van die spel maklik oorheers.
“Ons vaste fasette was baie goed – ons skrums, lynstane en afskoppe het regtig glad verloop. Daar was tye dat ons goeie fases aanmekaargesit het.
En ons het ook nie ’n drie afgestaan nie, dus was dit ’n goeie poging op die verdediging. Maar ons sal dit nou in 80 minute se rugby moet doen,” het De Villiers gesê.
Die beseerde Bismarck du Plessis sal deur Adriaan Strauss vervang word. Hoewel Craig Burden hom as ’n plaasvervanger vir Du Plessis by die groep aangesluit het, is sy kanse om te speel skraal.
Burden het hom Sondag in ’n beskeie blou T-hemp op die lughawe by sy Bok-spanmaats in hul netjiese Springbok-kleurbaadjies aangesluit.
Burden het ná die Haaie se wedstryd Saterdag teen die Leeus eers van sy Springbok-kans gehoor.
Vir Strauss wag ’n welverdiende kans ná soveel jare in Du Plessis en John Smit se skadu.
Hy sal nietemin sy gereelde fisieke inklimspel op sy heel beste moet benut, want soos De Villiers sê gaan die Poemas die slag veel moeiliker onderdruk word.
“Dit is hul eerste tuiswedstryd in die reeks en hulle wil ’n punt bewys. Ons weet hulle gaan taai wees, geestelik en fisiek, en daarom berei ons onsself vir ’n geweldige stryd voor.”