JOHANNESBURG. – Stuart Lancaster, afrigter van Engeland se rugbyspan, het vyf veranderinge, twee daarvan posisioneel, gemaak aan die span vir môre se tweede toets hier teen die Springbokke.
In die insiggewendste verandering keer Toby Flood terug as losskakel ten koste van Owen Farrell.
Dit is Flood se eerste toets sedert Lancaster oorgeneem het as afrigter, maar met 48 toetse agter sy blad sedert hy sy debuut in 2006 teen Argentinië gemaak het, is hy die mees ervare speler in die span vir môre.
Flood skuif in langs sy skakelmaat van die Leicester Tigers, Ben Youngs.
Daar is vyf Tigers in die span wat die Bok-breier, Heyneke Meyer, goed sal ken van sy kort tydjie daar aan die stuur.
Die beserings van die heelagter Mike Brown en die senter Brad Barritt het Lancaster genoop om verskeie skuiwe te maak.
Ben Foden skuif terug van vleuel na heelagter, met David Strettle wat weer op linkervleuel inskuif.
Manusamoa Tuilagi skuif van buite- na binnesenter in Barritt se plek, met Jonathan Joseph wat sy plek in die nr. 13-trui neem. Dit sal die 21-jarige Joseph se toetsdebuut in die beginspanwees.
Daar is ook enkele nuwe gesigte op die plaasvervangersbank, met Alex Corbiseiro wat kans kry in die plek van Paul Doran Jones, terwyl Alex Goode in Flood se plek inskuif.
Lancaster het al gewys hy skroom nie om jong spelers hul kans te gee nie en het dit weer bewys met Joseph, wat deur die agterlyn-afrigter, Mike Catt, as die volgende Jeremy Guscott beskryf word.
“Dit is opwindend om twee 21-jariges as senters te hê. Dit is ook goed om Toby se ervaring langs hulle te hê.
“Ek is ook tevrede om weer die agterste driehoek wat so goed in die Sesnasies gedoen het tot my beskikking te hê,” het Lancaster gesê.
“As Tuilagi ons oor die voordeellyn kan kry, kan ons Chris (Ashton) en David (Strettle, die vleuels) ruimte gee om doeltreffend te wees.”
“Toe ons die bal wyd gespeel het in daardie laaste vyf minute in Durban, was ons baie meer doeltreffend en ons sal meer daarop wil fokus,” het Lancaster gister gesê.
Hy sê met die span wat gekies is, sal die klem daarop wees om in die regte gebiede op die veld te speel.
“Dit help nie ons vermors energie in ons eie halfgebied nie,” sê hy.
“Ek wil hê ons moet op die detail fokus, eerder as op wat ons wil hê die uiteindelike uitslag moet wees.
“Ons verwag naastenby dieselfde van die Springbokke as wat in Durban die geval was, en hulle sal ons weer in daardie middelveld-kanaal wil aanvat.
- Die span is: Ben Foden, Chris Ashton, Jonathan Joseph, Manusamoa Tuilagi, David Strettle, Toby Flood, Ben Youngs, Ben Morgan, Chris Robshaw (k), Tom Johnson, Geoff Parling, Mouritz Botha, Dan Cole, Dylan Hartley, Joe Marler.
PLAASVERVANGERS: Lee Mears, Alex Corbiseiro, Tom Palmer, Phil Dowson, Lee Dickson, Owen Farrell, Alex Goode.