Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Gelapte Stormers moet waag as hulle vandag wil wen

Deur: Stephen Nell 2012-06-01 21:48
PRETORIA. – Een ding in rugby wat nooit sal verander nie, is dat die Bulls hul wedstrydplan vir jou faks met dié boodskap: “Keer ons as jy kan.”

Terwyl die Stormers gister nog ’n verklaring uitgereik het dat hul kapteinsoefening “heeltemal” geslote vir alle media is, het die Bulls nie geheime weggesteek voor vanaand se Superrugby-wedstryd op Loftus nie.

Almal weet hoe die manne in pienk speel en die bal is in die Stormers se baan om die Bulls fisiek te tem, staande te bly onder die druk van hul lugskoppe en foute onder die geweldige aanslag te beperk.

Met Andries Bekker wat vandeesweek by Schalk Burger, Duane Vermeulen en Joe Pietersen op die krukkelys aangesluit het, sal die weddenskappe seker op die Bulls wees.

Die Stormers se kaptein, Jean de Villiers, was boonop die afgelope week in ’n siekbed met griep, terwyl Siya Kolisi en Eben Etzebeth se skouers al seer is van al die rugby wat hulle gevra is om te speel.

Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, het op pad na Pretoria gesê De Villiers sal speel.

Behalwe vir die probleem dat sy mediese span oortyd moet werk, moet Coetzee boonop ook ’n aanpassing aan sy wedstrydplan maak. Die Stormers se keerwerk is besonder goed, maar ’n plan wat uitermatig op verdediging geskoei is, sal straks nie vandag genoeg wees nie.

Verdediging bly natuurlik belangrik, maar die Stormers se weg om etlike van hul probleme is straks om meer met die bal in die hand uit te rig, eerder as om druk te absorbeer en vir teenstanders te wag om foute te maak.

Wie weet wat sal volg as die Stormers die tempo probeer versnel eerder as om voor ’n groter teenstander te staan en houe te ruil.

Die personeel is daar om die Bulls uit hul gemaksone te haal: Gio Aplon, Bryan Habana, Juan de Jongh en De Villiers.

Dat hulle nie tot hul potensiaal aangewend word nie, blyk uit die statistiek dat slegs die Lions minder drieë as die Stormers gedruk het.

Tot dusver was die Stormers se plan rigied dog doeltreffend. Maar as daar ooit ’n tyd was om ’n bietjie skiet te gee, is dit dalk nou.

’n Teenaanval hier, ’n vinnige tikskoppie daar en wie weet... om te wen, sal die Stormers óók moet waag.

Die spanne is:

Bulls: Zane Kirchner, Akona Ndungane, JJ Engelbrecht, Wynand Olivier, Bjorn Basson, Morné Steyn, Francois Hougaard, Pierre Spies, CJ Stander, Dewald Potgieter, Juandrè Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle, Dean Greyling.

PLAASVERVANGERS: Willie Wepener, Rayno Gerber, Wilhelm Steenkamp, Arno Botha, Jano Vermaak, Louis Fouché, Francois Venter.

Stormers: Gio Aplon, Gerhard van den Heever, Juan de Jongh, Jean de Villiers (k), Bryan Habana, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Jebb Sinclair, Rynhardt Elstadt, Siya Kolisi, De Kock Steenkamp, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Tiaan Liebenberg, Deon Carstens.

PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, Brok Harris, Quinn Roux, Don Armand, Nic Fenton-Wells, Louis Schreuder, Burton Francis.
 
Skeidsregter: Jonathan Kaplan.

Assistent-skeidsregters: Mark Lawrence en Cobus Wessels.

TV-skeidsregter: Shaun Veldsman.
 
«Terug