JOHANNESBURG. – Daar is groter span-eenheid by die Lions sedert die skorsing van John Mitchell as afrigter te bespeur, glo die Bulls se afrigter, Frans Ludeke.
Ludeke se Bulls en die Lions, wat nou tydelik deur Johan Ackermann geslyp word, kruis môre op Loftus Versfeld in die Super-reeks swaarde.
“Die Lions speel met groter toewyding en jy kan sien daar is nou eenheid. Dit is te sien in die manier waarop hulle verdedig én aanval,” het Ludeke gesê toe hy oor die Lions in Mitchell se afwesigheid gevra is.
Ludeke weet nie wat die rede daarvoor is nie, maar verwag nietemin dat die Lions moeilike teenstanders gaan wees, al het hul spelpatroon nie juis post-Mitchell verander nie.
“Natuurlik hou hulle daarvan om die bal in ruimte in te speel. Daar was min strukturele verandering (sedert Mitchell se vertrek), selfs al het sommiges opgemerk dat hulle nou ook goeie dryfspel lewer.”
Pierre Spies, kaptein van die Bulls, sê sy span besef die belang van die Jukskeirivier-derby – en vermy daarom enige sprake oor die komende weke se uitkloprondes in die Super-reeks.
Spies glo wel nie die nederlaag teen die Sharks het die Bulls tot paniek gedryf nie.
“Ons moet daaruit (die Sharks-nederlaag) leer, dit agter ons sit en fokus op dít wat ons wil bereik. Dan sal ons suksesvol wees.
“Ons sien die belangrikheid van die Lions-wedstryd raak. Hulle sal goed voorbereid wees.”
Die Lions se kaptein, Josh Strauss, het gister erken sy span het nie veel meer oor as trots om voor te speel nie.
“Natuurlik sien ons reeds uit na die Curriebeker-reeks wat gaan begin.
“Maar nou fokus ons op dié wedstryd. Hierdie derby is altyd taai – waarskynlik die grootste derby in die land.”
Ackermann glo die Bulls het juis teen die Sharks vasgeval, omdat die Sharks desperaat was vir ’n oorwinning.
“Die Sharks was met die rug teen die muur en as enige van die voorste spanne in die reeks desperaat is, is hulle gevaarlik.
“Dít is die soort span teen wie ons gaan speel,” het Ackermann met verwysing na die Bulls gesê.