Beeld

Heyneke het Plan B

Deur: Stephen Nell 2012-06-18 23:00
PORT ELIZABETH. – Frans Steyn is nie die soort speler wat jy maklik kan vervang nie, maar die Springbokke is seker dat Wynand Olivier sy man in hul middelveld sal staan in Saterdag se derde toets teen Engeland in die Nelson Mandelabaai-stadion.

Die Bokke se verdedigingsafrigter, John McFarland, het gister ’n paar interessante onthullings gemaak toe hy oor die duikslae in verlede naweek se toets gepols is.

“Wynand was ons top-verdediger toe hy opgekom het, want Manu Tuilagi (Engeland se reuse-senter) storm op die 10/12-kanaal af,” het McFarland gesê.

Olivier het slegs die laaste 35 minute van verlede week se toets gespeel en sy goeie bydrae versterk net die punt dat hy die logiese keuse is om Steyn op binnesenter te vervang.

Die Bok-bestuur het altyd geweet dat Steyn dié naweek gaan trou en dat daar ’n goeie Plan B móét wees.

Marcell Coetzee was Saterdag Suid-Afrika se besigste verdediger en het 13 van die Bokke se 98 duikslae uitgevoer.

“Marcell het ’n ongelooflike begin met sy toetsloopbaan gemaak. Hy is baie vinnig op sy voete ná ’n duikslag en lak sy teenstanders goed om die bene,” het McFarland gesê.

- Die Stormers-heelagter Joe Pietersen het hom intussen gisteraand by die Bokke aangesluit as hulle ’n plaasvervanger-heelagter sou benodig.

Patrick Lambie het nog ’n enkelbesering en daar sal môre oor hom besluit word.

Zane Kirchner is nie ’n keuse vir die laaste vesting nie – hy sal volgens die spandokter, Craig Roberts, eers deur die loop van aanstaande week fiks wees nadat hy ’n knie in die eerste toets in Durban beseer het.

Die kans is goed dat Gio Aplon die nr. 15-trui gaan dra, met Pietersen as versekeringspolis.

“Joe is nog deurentyd deel van ons planne en het ons laaste beplanningskamp in Durban voor die reeks teen die Engelse bygewoon. Hy ken ons stelsels en wedstrydplan. Ek is seker hy sal maklik inskakel,” het die Bok-breier, Heyneke Meyer, gesê.

“Beserings is nou maar deel van rugby en jy kan nie vooraf daarvoor beplan nie. Ons het darem altyd geweet dat Frans nie dié naweek sal kan speel nie.”

As Lambie saam met Steyn uit die prentjie is, sal dit interessant wees om te sien of Meyer dit nodig ag om ’n spesialis-losskakel tussen die plaasvervangers te hê.

Ruan Pienaar kan gerieflik daar inskakel as Morné Steyn seerkry, maar dek reeds op skrumskakel. Die moontlikheid dat Elton Jantjies hom op die plaasvervangersbank sal bevind, kan dus nie buite rekening gelaat word nie.

Meyer sal óók môre weet of die Bokke se stormram, Willem Alberts, voor Saterdag van sy kniebesering sal herstel. Dit lyk egter asof Jacques Potgieter sy buiging as steelkantflank sal maak.

Potgieter is ’n soortgelyke speler as Alberts. Dis veral sy vermoë om die bal oor die voordeellyn te kry wat hom die logiese opvolger vir Alberts maak.
 
«Terug