Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Lions het nie ander plan

Deur: Pieter Jordaan 2012-06-29 00:59
JOHANNESBURG. – John Mitchell se Lions-bloudruk gaan behou word wanneer die span môre op Nuweland in Kaapstad teen die Stormers speel.

Dié rugbyspan sal nie nou skielik, onder Johan Ackermann as waarnemende afrigter, afsien van dit wat Mitchell, geskorste afrigter van die Lions, probeer doen het nie.

Die Lions het min tyd as ’n eenheid gehad sedert Mitchell Vrydag geskors is en, soos Ackermann dit stel, sal die “span hou by die dinge waarmee hulle vertroud is”.

Onder Mitchell het die Lions hoofsaaklik aanvallende rugby gespeel en soms het dié hoërisiko- spel hulle aan die hakskeen gebyt.

Selfs Ackermann se spankeuses vir die wedstryd teen die Stormers was nagenoeg identies aan dít wat Mitchell sou doen.

Met die aankondiging van die span gister was beserings die enigste rede waarom twee skuiwe aangebring is.

Die beseerde stutpaar van CJ van der Linde en Patric Cilliers is deur JC Janse van Rensburg en Jacobie Adriaanse vervang.

’n Fiksheidstoets sal vanoggend bepaal of Van der Linde ’n plaasvervanger teen die Stormers sal wees.

Adriaanse het vanjaar nog net in drie Super-wedstryde gespeel, en kry ’n gulde geleentheid om op Nuweland sy staal te wys.

Die terugkeer van Michael Bondesio onder die plaasvervangers was wel ’n bietjie goeie nuus vir die Lions – ’n span wat wéér deur ’n onstuimige week was met die Mitchell-drama.

“Ek het ’n goeie verhouding met John en het baie by hom geleer,” het Ackermann oor sy ervaring van die week gesê.

“Ek is nie betrokke by sy geskil met die unie (GLRU) nie en sal net my beste gee om die Lions nou gereed te kry. In my oë is ek steeds die hulp-afrigter.”

Josh Strauss, kaptein van die Lions, het gesê die drie weke se ruskans was broodnodig vir sy spelers, selfs al het hulle reg voor die onderbreking vir toetswedstryde ’n skoksege oor die Sharks behaal.

“Die gevoel en gees in die kamp is regtig goed en almal is gefokus. Dit gaan moeilik wees teen die Stormers, maar ons wil as ’n span die wedstryd vir mekaar wen,” het Strauss gesê.

Kevin de Klerk, president van die GLRU, het die media ook gister toegespreek, maar nie veel meer oor Mitchell se skorsing uitgelap nie.

“Die sage kan ’n week of twee lank duur, dit is moeilik om te sê. Natuurlik wil ons dit so gou moontlik afhandel. Ons volg die regte prosedures en ek belowe almal ons wil doen wat reg is vir die unie.”

Die Lions-span is: Andries Coetzee, Deon van Rensburg, Lionel Mapoe, Butch James, Anthony Volmink, Elton Jantjies, Tian Meyer, Josh Strauss, Grant Hattingh, Derick Minnie, Franco van der Merwe, Hendrik Roodt, Jacobie Adriaanse, Callie Visagie, JC Janse van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Martin Bezuidenhout, CJ van der Linde/Ruan Dreyer, Ruan Botha, Jaco Kriel, Michael Bondesio, Waylon Murray, Ruan Combrinck.
 
«Terug