PRETORIA. – Die Blou Bulle sal vandag styf duim vashou dat Arno Botha vandeesweek ook vir die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein ’n reuse-kopseer of drie sal besorg.
Dié jong losvoorspeler was Vrydag op Loftus Versfeld een van die Ligbloues se groot uitblinkers in hul verrassend groot sege van 35-20 oor Griekwas.
Botha het vlak ná rustyd deur ’n lotjie verdedigers gebars, waarna Akona Ndungane sy drie gedruk het. Maar hy is minute later met ’n bobeenskeet van die veld af.
Die spandokter, Org Strauss, het versoek dat Botha die res van die naweek met ’n sakkie ys rondloop, en daar sal vandag besluit word of hy wel verder ondersoek moet word.
Die voormalige Jong Bok-kaptein het teen gister heel goed gevoel, volgens die spanbestuurder, Wynie Strydom.
En die Bulle se breier, Pine Pienaar, het die hoop uitgespreek dat Botha “net ’n erge kramp gehad het”.
Ook Ndungane en hul kaptein, Dewald Potgieter, is ná harde stampe van die veld af, maar albei sal vandeesweek ten volle kan oefen.
Toe Potgieter oor sy eina gepols is, het hy ietwat verleë geglimlag. “Man, die ou se lyf het drie weke laas kontak gevat,” het Pienaar toe vir hom geskerm.
Dit sal interessant wees om te sien of Pienaar enige veranderinge aan sy lostrio aanbring. As Botha uit is, sal CJ Stander beslis speel.
Maar selfs al kan Botha speel, het hy en Stander later teen Griekwas skitterend as baldraers gekombineer. Pienaar sal dus moet opweeg of Deon Stegmann se waarde as baljagter groter is as Stander se aansienlike bydrae op die voordeellyn.
Die Bulle het baie goed as ’n eenheid saamgespeel – veral as in ag geneem word dat Ndungane, Potgieter en Werner Kruger hulle maar ’n week terug by die span aangesluit het.
’n Verdere, dog aangename tameletjie kan in die middelveld ontstaan.
Baie kenners sien uit om Jan Serfontein in die Bulle se beginspan te sien, maar Ulrich Beyers het ’n yslike wedstryd op buitesenter gehad, en daarvoor verdien sy binnesenter, Francois Venter, natuurlik ewe veel lof.
Voorts behoort Johann Sadie vandeesweek weer te kan speel, maar dit gaan moeilik wees om een van hierdie knap spelers uit die kussings te lig.
Ná goeie vertonings deur vleuel, Ndungane en Clayton Blommetjies, is selfs die buitewyke van die agterlyn hom dalk nie beskore nie.