PRETORIA. – Broers, wees stil. Hier kom ’n spán verby...
Die Suid-Afrikaanse klubrugbykampioenspan van 2010, College Rovers, het gister in Rustenburg tot sy vierde eindstryd in sewe jaar deurgedring toe hy Old Selbornians van die Grens met 72-10 slae gegee het.
Van laasgenoemde het ’n mens ’n bietjie meer in die halfeindronde verwag, maar dié span was Maandag in ’n bloedige kwarteindstryd met Brakpan gewikkel. Daardie wedstryd het moontlik sy tol op Old Selbornians geëis.
Maar die gehalte teenstand in College Rovers kan nie geringgeskat word nie. Gister se oorwinning was hul 78ste in 82 wedstryde sedert 2009.
Twee van daardie vier sonderlinge nederlae was vanjaar – teen Durban Collegians en in ’n vriendskaplike feeswedstryd teen Tukkies.
Die ander was verlede jaar teen die Universiteit van Johannesburg in die halfeindronde van die Nasionale Klubrugbytoernooi, en die eerste in 2009 teen die Kaapse klub Hamiltons – ’n wedstryd later die Suid-Afrikaanse klubkampioen.
Dit is ’n span wat oor die jare kontinuïteit in sy samestelling gehad het, en hy word deur die voormalige Springbok Robert du Preez afgerig.
In Rovers se eerste drie wedstryde in Rustenburg is hulle pal as die gunstelinge beskou. Maar dit raak nou moeiliker.
Want hulle speel môre in die eindstryd teen Pretoria-Polisie. Hoewel hierdie span die nasionale titel laas in 1995 en 1995 gewen het, is hy vanjaar ’n buffel van ’n Bobbies-span.
Hulle het Tuks in die eindstryd van die Carltonliga geklop, en ná Rovers se nederlaag teen die einste studente moet dit hulle moed gee voor hul vierde verskyning in die eindstryd van die klubtoernooi.
Boonop het Polisie gister afgereken met die tuisspan, Rustenburg-Impala, toe hy sy halfeindstryd met 35-25 gewen het.
Die vleuel Michael Nienaber het sy knap toernooi met nóg twee drieë voortgesit.
Dít, 15 punte van Dillon Laubscher se skopkegel af en ’n drie laat in die wedstryd deur Ruan van Loo het eindelik die deurslag gegee.
Polisie het die toernooi-gunsteling Durbanville-Bellville Maandag uit die wedloop geskakel, en hoewel Old Selbornians se drag slae gister effens teleurstellend was gegewe die gevorderde fase van die toernooi, speel die twee beste spanne in Rustenburg wel in die eindstryd om die beker.
Rovers en Polisie sal ook in die Plaat-eindstryd sake uitspook – dis nou Welkom Rovers en Bloemfontein-Polisie.
Die Noord-Vrystaters het die Naka-Bulle in hul halfeindstryd met 35-24 verslaan, en Polisie Noordelikes met 27-7 om vir die eindstryd te kwalifiseer.
- Môre se program (albei wedstryde op SS 1 en GDN op DStv): PLAAT: 13:00: Bloemfontein-Polisie t. Welkom Rovers. BEKER: 15:00: College Rovers t. Pretoria-Polisie.