PERTH. – Die moontlike verlies van ’n derde haker in drie weke is een van die redes waarom spankeuse vandeesweek ’n netelige saak vir Heyneke Meyer, die Springbok-afrigter, kan wees.
Dis nog onseker of Adriaan Strauss vanweë beseerde knieligamente Saterdag hier in ’n Rugby-kampioenskapstryd teen Australië sal kan speel.
Dit volg op die beserings aan Bismarck du Plessis en Chiliboy Ralepelle ’n week voordat die Bokke in Mendoza in Argentinië gespeel het.
Volgens die Bokke se spandokter, Craig Roberts, sal Strauss vandag die eerste keer probeer hardloop as die eerste stap in ’n herstelproses.
Meyer het tog gesê die drie hakers in die Bok-groep in Australasië helder die situasie effens op.
“Maar ons het Bismarck en Chili (Ralepelle) verloor. Bismarck is veral een van ons leiersfigure, moontlik ’n toekomstige Bok-kaptein.
“En Adriaan is ook ’n leier. En met Pierre (Spies) ook uit is daar nie baie ouens oor wat provinsiale kapteins is nie. Hopelik is Adriaan betyds reg,” het Meyer gesê.
Tiaan Liebenberg sal Strauss vervang as hy nie herstel nie en die Haai Craig Burden kan dan as plaasvervanger ingespan word. Burden is tegnies Suid-Afrika se vyfdekeuse-haker.
As Stormers-speler is Liebenberg minstens vertroud met die Stormers-slotte Eben Etzebeth en Andries Bekker, wat in die laaste toets gespeel het en dit kan die lynstaanspel ’n hupstoot gee.
Dieselfde geld Duane Vermeulen, nog ’n Stormers-voorspeler wat die beginspan kan haal. ’n Kombinasie van Vermeulen, Willem Alberts en Marcell Coetzee lyk na ’n groot moontlikheid.
Die flank Francois Louw het hom eers gisteraand by die Bokke aangesluit, maar Meyer kan hom reeds Saterdag inspan.
“Hy is ’n ervare speler en ons het nie baie ervaring onder ons losvoorspelers nie. Ek het nog nooit met Francois gewerk nie, maar ons sal sien.
Ek glo nog altyd in die waarde van ’n spesialis-oopkantflank, so miskien as plaasvervanger,” het Meyer gesê.
Die Walliese skeidsregter Nigel Owens hanteer die toets en hy sal na verwagting moontlik groter mededinging by die afbreekpunte toelaat as wat Steve Walsh teen Argentinië gedoen het.
Meyer behoort ook môre wanneer hy sy span aankondig die nr. 9-trui vir Ruan Pienaar te gee en Francois Hougaard as linkervleuel te kies.
“Ons oorweeg daardie keuse en kyk na die beste speler vir die spesifieke teenstander. Hougie kan vir ’n span daardie iets anders as vleuel bied. Ruan is ’n bietjie meer ervare as skrumskakel en skop takties baie goed. Hy kan meer bestendigheid bring en die druk só op Morné verlig,” het Meyer gesê.

Tiaan Liebenberg