Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Taumalolo wil só groet

Deur: Stephen Nell 2012-08-02 21:45

KAAPSTAD. – Dis ongehoord vir ’n stut om ’n toernooi as die voorste driedrukker af te sluit, maar die Chiefs se Sona Taumalolo is byna daar.

As Taumalolo in môre se Superrugby-eindstryd teen die Sharks in Hamilton wéér druk, sal hy gelyk trek met die Hurricanes se André Taylor en die Bulls se Bjorn Basson op 10 drieë.

Dié kragtige buks is veral gevaarlik rondom die losskrums wanneer die Chiefs op die aanval is, en het in verlede naweek se halfeindstryd-sege oor die Cru­saders wéér so ’n drie gedruk.

’n Tiende drie sal ook vir Taumalolo ’n lekker manier wees om sy tuisskare te groet voordat hy hom by sy Franse klubspan, Perpignan, aansluit.

“Ek is vol vertroue dat ek kan druk wanneer ons naby die doellyn is. Ek beskou dit altyd as ’n geleentheid wanneer ons in daardie posisie is,” het dié 30-jarige Tongaan aan Rugby News gesê.

“Die ander ouens se ondersteuning help natuurlik, maar ek is baie tevrede om as stut tot dusver nege drieë te kon druk.”

Taumalolo se grootste uitdaging sal egter wees om die mas in die skrums op te kom, met die Springbok-vaskopstut Jannie du Plessis wat sy regstreekse teenstander gaan wees.

Intusssen is die Chiefs se slot en kaptein, Craig Clarke, in die Kiwi’s se beginspan ingesluit nadat hy ’n fiksheidstoets geslaag het.

Daar was twyfel oor Clarke nadat hy ’n kniebesering teen die Crusaders opgedoen het.

Taumalolo en Clarke tel onder 6 Chiefs in hul groep van 22 wat die spook van hul vernedering in 2009 se eindstryd teen die Bulls wil verjaag. 

Die ander wat in die groep was wat met 61-17 in Pretoria getroef is, is die flanke Tanerau Latimer en Liam Messam, en die plaasvervangers Hika Elliot (haker) en Lelia Masaga (vleuel).

“Ons het vroeër in die week gesels oor wat in 2009 gebeur het en wat ons verkeerd gedoen het. Dis ’n pad wat ons nie weer wil stap nie,” het Latimer luidens stuff.co.nz gesê.

Die Chiefs se breier, Dave Rennie, het selfs vroeër vandeesweek beeldmateriaal van daardie eindstryd se laaste oomblike aan die span gespeel en die betrokkenes moes verduidelik wat verkeerd geloop het.

“Dis goed dat dit ter sprake gekom het. Ek dink dit was ’n geval van ons wat toe net te bly was om die eindstryd te haal en dis die verkeerde houding om ’n wedstryd mee te benader. Die ingesteldheid dié week is baie anders,” het Latimer gesê.

- Die Chiefs se span is: Robbie Robinson, Tim Nanai-Williams, Andrew Horrell, Sonny Bill Williams, Asaeli Tikoirotuma, Aaron Cruden, Tawera Kerr-Barlow, Kane Thompson, Tanerau Latimer, Liam Messam, Brodie Retallick, Craig Clarke (k), Ben Tameifuna, Mahonri Schwalger, Sona Taumalolo. PLAASVERVANGERS: Hika Elliot, Ben Afeaki, Michael Fitzgerald, Sam Cane, Brendon Leonard, Jackson Willison, Lelia Masaga.


Die Chiefs draf verlede Vrydag op die Waikato-veld in die halfeindstryd in Hamilton teen die Crusaders. Hulle speel môre op dieselfde veld in die eindstryd teen die Sharks. Foto: Simon Watts, Getty images

 
«Terug