Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Taute se Bok-kans in wiele gery

Deur: Pieter Jordaan 2012-05-28 23:29
JOHANNESBURG. – Jaco Taute se skouerbesering gaan hom vir minstens ’n maand uit rugby hou, het die Lions gister bevestig.

Die 21-jarige Taute, wat vanjaar van heelagter na senter geskuif is toe die Lions ook in die senterposisie met ’n beseringskrisis te kampe gehad het, is in Saterdag se Super-wedstryd teen die Force in Perth beseer.

Hy sou gister nog ’n skandering aan sy skouer ondergaan het om die volle omvang van die besering vas te stel, maar die aanvanklike vermoede is dat hy tussen vier en vyf weke lank buite aksie sal wees.

Taute is lid van Heyneke Meyer (SA afrigter) se aanvanklike Springbok-oefengroep met die oog op die toetsreeks teen Engeland, maar sy Bok-kanse is nou ook vir eers in die wiele gery.

Sy afwesigheid gaan die Lions verder uitdun aan die vooraand van hul eerste tuiswedstryd in ’n maand wanneer hulle Saterdag hier teen die Sharks speel.

Tog sal die Lions moontlik op die knoppie van Butch James druk. James se skorsing van vier weke nadat hy die Brumbies se Scott Fardy op 27 April met die skouer geloop het, is nou uitgedien.

Hy kan as senter in Taute se plek oorweeg word.

Benewens Taute is senters soos Doppies la Grange, Alwyn Hollenbach, Waylon Murray en Dylan des Fountain ook voor of tydens die seisoen met beserings platgetrek.

La Grange vertrek buitendien eersdaags na Treviso in Italië waar hy sy loopbaan sal voortsit.

Murray het onlangs weer klubrugby begin speel en kan terugkeer wanneer Super-rugby ná die toetsreeks in Junie teen Engeland hervat. Maar Hollenbach en Des Fountain sal eers in die Curriebeker-reeks weer speel.

Die Lions is ook in verskeie ander posisies deur beserings uitgedun. Die venstertydperk vir toetswedstryde sal nietemin aan sommige spelers kans gee om te herstel vir die Lions se laaste drie wedstryde.

Kragmetings met die Stormers in Kaapstad, die Rebels in Johannesburg en die Bulls in Pretoria lê dan vir die Lions voor.

Die Lions sal ook vandag weet wat die lot van die stut CJ van der Linde is. Hy word vanoggend verhoor nadat hy die Force-slot Toby Lynn na bewering Saterdag aan die arm gebyt het.

As hy skuldig bevind word, wag ’n lang skorsing straks.

- Ondanks al die terugslae het die Goue Leeus Rugbyunie se president, Kevin de Klerk, gister in ’n mediaverklaring gesê daar gaan hard gewerk word om die Lions­ weer vir die 2013-seisoen op peil te kry.

Hy het ook gesê die unie veg om die Lions se voortgesette deelname aan Super-rugby te verseker, maar verwys na Saru se onlangse uitlating aan die parlementêre komitee vir sport dat die Southern Kings “nie ten koste van ’n ander bedryfsreg tot die reeks toegelaat sal word nie”.

“Ek is ook bly oor al die ondersteuning en aanmoediging wat ons ontvang in ons strewe om ons status (as Super-rugbylid) te behou.”
 
«Terug