KAAPSTAD. – Twee dae nadat die Jong Bokke hul aanvangswedstryd in die Junior Wêreldtoernooi verloor het, vra hul breier, Dawie Theron, in ’n hysbak van die span se hotel: “Wanneer begin mense ons haat?”
Hy was opreg besorg en verstaanbaar kwesbaar.
Suid-Afrika het die Wêreldtoernooi immers op eie bodem met sewe maande se voorbereiding én vyf Super-rugbyspelers aangepak.
En tog in daardie eerste wedstryd teen Ierland met 19-23 vasgeval.
Die antwoord op Theron se vraag sal vir die meeste Suid-Afrikaners maklik kom: “Gister al!”
Dis immers hoe die plaaslike sportpsige werk. Jy verloor een wedstryd en jy’s uit. Jy wen, en jy’s die beste in die wêreld.
Die gebied tussen die twee uiterstes – middelmatigheid – is nie toegelate vaarwaters vir SA afrigters nie.
Die moeiliker antwoord op Theron se vraag is dat uitsprake van liefde of “haat” teruggehou sal word totdat daardie soustannie haar laaste noot op die laaste dag van die toernooi sing.
Alleenlik dán sal ’n mens weet of die vroeëre nuk om te “haat” geregverdig sou wees – dít teenoor geduld wat ’n wankelrige verhouding ’n kans op nuutgevonde liefde kan gee.
Toe die Jong Bokke die Kiwi’s Vrydag op Nuweland met 22-16 geklop en daarmee die eerste keer die o.20-wêreldtitel verower het, moes diegene wat vroeg reeds gehaat het, met ’n mond vol tande staan en hul woorde sluk.
Theron het wel ná die wedstryd toegegee dat daardie nederlaag teen Ierland die vooruitsig van ’n Wêreldbeker in die kas tydelik vir sy span ’n ver en vae vooruitsig gemaak het.
“Ons was toe platgeslaan. Op ons knieë,” het hy herroep.
“Die manier waarop Brendan Venter en Nazeem Adams (sy adjudante) my ondersteun het, is ongelooflik. En die manier waarop die span hom daarna reggeruk het, inspirerend.
Ons het daar en dan besluit ons wil al die pad gaan. En hier sit ons vanaand.”
Die Bokkies het Vrydag ’n strawwe eerste helfte teen Nieu-Seeland gehad. Jan Serfontein, na dese aangewys as die Internasionale Rugbyraad se Junior Speler van die Jaar, het erken dat die Kiwi’s Suid-Afrika met hul knap skopwerk verras het.
“Hulle was nie vroeër in die toernooi takties goed nie, maar het ons in die eerste helfte met skoppe onder druk geplaas.
Ons het met rustyd saamgetrek en besluit om te doen wat ons beplan het,” het die senter gesê.