Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

WP-onderkaptein Braché kán bal ver sool

Deur: Stephen Nell 2012-08-09 21:26
KAAPSTAD. – Daar is ’n stukkie statistiek diep weggesteek in die annale van Varsitybeker-geskiedenis waarvan die Westelike Provinsie se afrigter, Allister Coetzee, gerus kan kennis neem voor môre se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Haaie op Nuweland.

Langs Marcel Braché se naam, wat 21ste op die lys van puntemakers in 2010 se Varsitybeker-reeks verskyn, word drie strafdoele aangedui as herinnering dat die Ikeys hulle toe op ’n nuttige kanonpoot kon beroep.

Hy’s g’n Frans Steyn nie, bieg die Streeptruie se binnesenter en onderkaptein, maar dis dalk weer tyd om sy skopstewel af te stof indien die WP iemand nodig het om ’n langafstand-strafdoel oor te klits.

Dis ’n wapen wat die Haaie ook met Riaan Viljoen in hul geledere Nuweland toe bring.

“Baie ouens vra my wat van my langafstand-skoppe geword het. Ek het die afgelope paar seisoene eerder op my algemene spel gefokus, maar het in die onlangse weke weer ’n bietjie skoppe begin oefen,” het Braché dié week gesê.

“Dit gaan ’n bietjie tyd neem en ons het puik skoppers in die span, maar as dit nodig is, sal ek pale toe aanlê. Ek dink my verste skop is omtrent 55 meter saam met die wind. Maar vir nou is dit net ’n eer om in die WP-span te wees.”

Braché is vernaam gekies omdat hy die bal goed versprei en agterlangs lei met sy kommunikasie en vermoë om die verdediging te organiseer. Coetzee het hom dáárom ook met ’n leiersrol toevertrou.

Nie sleg nie vir ’n speler wat maar twee en ’n half jaar gelede eers raakgesien is terwyl hy in die Ikeys se kaas-en-wyn-span, die Tornadoes, baljaar het.

’n Plek in die Varsitybeker-span was hom toe beskore en van daar is hy in die WP se strukture opgeneem.

“Ek kon dit byna nie glo toe Allister my inroep en vir my sê dat ek die onderkaptein gaan wees nie,” het Braché gesê.

Die opwindende buitesenter JP du Plessis kan veral baat by Braché se aangeewerk, maar dit lyk nie of die weer dit môre ’n lekker dag vir die driekwarte gaan maak nie.

Wie weet, dalk is dit ’n langafstand-skop wat die verskil maak. 
«Terug