Die dodetal nadat 'n vragmotor wat plaaswerkers vervoer het Vrydagoggend deur 'n trein getref is, het tot 20 gestyg nadat nog 'n beseerde slagoffer beswyk het.
Die ongeluk het by 'n spooroorgang by Hectorspruit in Mpumalanga gebeur. Die treinspoor is reg langs die N4-tolpad.
Nóg 23 mense is beseer, van hulle kritiek.
Dit is nog nie duidelik presies wat gebeur het nie, het Jeff Wicks van Netcare 911 gesê.
Dit wil voorkom asof die vragmotor probeer het om oor die treinspoor te ry toe die trein hulle getref het.
Die vragmotor is sowat 40 m meegesleur voordat die trein tot stilstand gekom het. Die impak van die botsing het die voertuig oopgekloof.
Volgens ooggetuies is liggame uitmekaar geruk en nooddlienspersoneel is deur 'n gru-toneel begroet waar lyke, liggame en liggaamsdele oor 'n groot gebied en op die treinspoor gelê het.
Die beseerdes is na hospitale in die omgewing geneem. - Netcare 911