Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

2 gesoek wat in '88 by Winnie gesien is

2012-12-19 11:31
’n Nuwe ondersoek is begin na die verdwyning van twee mans wat glo laas lewend in Winnie Madikizela-Mandela se geselskap gesien is.

Makhosini Nkosi, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê nuwe inligting is onlangs ontvang oor Lolo Sono en Siboniso Shabalala, wat in 1988 verdwyn het. Hy het gesê daar word na hul lyke gesoek, maar wou nie bevestig dat daar ’n verband met Madikizela-Mandela is nie.

“Die ondersoek is nog nie afgehandel nie  . . .Geen grafte is nog bevestig of opgegrawe nie,” het hy in ’n verklaring gesê.

Volgens AP is die twee mans in November 1988 laas lewend gesien by Madikizela-Mandela se huis in Soweto.

Madikizela-Mandela is in 1991 skuldig bevind aan die ontvoering en aanranding van vier jong mans. Sy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar ná haar appèl is die vonnis tot ’n boete versag.

Volgens Nkosi werk ’n NVG-taakspan wat op verdwynings fokus tans aan die saak van die vermiste twee mans.

As hul oorskot gevind word, sal die departement van justisie dit amptelik aan die mans se familie oorhandig, het hy gesê.  – Sapa
 
«Terug