’n Tweejarige meisie van Lephalale (Ellisras) wat erg verbrand het toe ’n bottel vuuraansteekjel in haar pa se hande ontplof het, is vandeesweek al vyf maande in die hospitaal.
Dit gaan wel al baie beter met Isabella (Pippie) Kruger, het haar ma, Anice Barnard Kruger, gesê.
Die kleuter het meer as 80% derdegraadse brandwonde oor haar hele liggaam opgedoen en reeds twee hartstilstande en verskeie infeksies oorleef.
Isabella het Vrydag veloorplantings in die Garden City-kliniek in Johannesburg gekry. Die nuwe vel is oorgeplant op dele waar sy bedsere ontwikkel het.
Sy het ’n groot bedseer op haar kop, albei elmboë en in haar nek ontwikkel.
Barnard Kruger het gesê Isabella moet nou so op haar bed lê dat die nuwe vel nie beskadig word nie. “Ek is so trots op haar.”
Sy haal self asem en eet en drink self. Haar wonde word gereeld in die teater skoongemaak.
Die vel op veral haar gesig herstel goed.
Haar ma het gesê dokters beplan nog veloorplantings.
Erwin Kruger het op Oujaarsaand ’n braaivleisvuur by die gesin se huis aangesteek toe die bottel met vuuraansteekjel in sy hande ontplof het. Hy het brandwonde op sy hande opgedoen.
Isabella het naby hom op die grasperk gespeel toe die vlamme tot by haar uitgebol het.