Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

2 kan nou R2 m. tot R4 m. ’n jaar verdien

Deur: Lourensa Eckard 2012-08-03 00:16

Chad le Clos en Cameron van der Burgh, Suid-Afrika se swem-supersterre, kan verwag om van nou af tussen R2 miljoen en R4 miljoen per jaar uit borgskappe te verdien.

Só het Ryk Neethling, hul bestuurder wat self in 2004 ’n Olimpiese goue medalje gewen het, gesê.

“Die belangrikste ding is om hulle toe te laat om op swem te fokus, maar hul lewens is onherroeplik verander.”

Le Clos het in die 200 m-vlinderslag goud gewen en Van der Burgh in die 100 m-borsslag.

Eben Venter, ’n sportagent by Sterling Sport Management in Pretoria, meen die twee is tans op ’n kommersiële hoogtepunt en moet nou die beste daarvan maak.

“Hul waarde, in kommersiële terme, het nou deur die dak geskiet. ’n Olimpiese goue medalje sal vir hulle op langtermyn baie geld besorg,” het Venter gesê.

Neethling, in sy hoedanigheid as hul bestuurder, sal ook geldelik by sy kliënte se kommersiële waarde baat vind, het Venter bygevoeg. “Hy kan moontlik tot 20% van hul inkomste vir homself as bestuurder neem.”

Die feit dat Le Clos en Van der Burgh albei in Suid-Afrika gebaseer is, tel ook geldelik in hul guns, het Penny Heyns, wat in 1996 twee goue medaljes gewen het, gesê. “Hulle is beskikbaar om namens hul borge geleenthede by te woon en praatjies te lewer. Swemmers is nie sokkerspelers nie; ons moet die beste maak van geleenthede vir borgskappe.”

Le Clos en Van der Burgh sal ook elk R400 000 van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) kry, soos wat vooraf belowe is aan Suid-Afrikaanse sportlui wat ’n goue medalje verwerf.

Volgens Tubby Reddy, uitvoerende hoof van Saskok, is Le Clos en Van der Burgh se prestasie ’n groot verligting.

“Ons het baie meer as net geld in ons atlete belê en nou het ons minstens iets om daarvoor te wys.”

Sport moet ernstiger in Suid-Afrika geneem word, het Reddy bygevoeg.

“Ek luister gewoonlik baie aandagtig na die minister van finansies se begrotingsrede en hy meld nooit sport as ’n terrein wat regeringsgeld moet kry nie. Ek hoop dit sal nou verander.”  

«Terug