Die Johannesburgse metropolisie verontagsaam glo ’n bepaling van die Aarto-verkeerswet deur oortredingskennisgewings per gewone pos pleks van geregistreerde pos te stuur.
Ingevolge Aarto (die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe) word aanvaar dat ’n oortreder die kennisgewing binne tien dae sal ontvang en art. 30 van dié wet bepaal dat kennisgewings per geregistreerde pos gestuur moet word.
René Venter, bestuurder van Avax-SA 466CC, wat maatskappye oor verkeersoortredings verteenwoordig, sê ’n oortreder kry dan gewoonlik 32 dae tyd om die boete te verhaal en as die boete in die voorgeskrewe tyd betaal word, kry hy 50% afslag.
Sy sê hoewel die metropolisie in Pretoria die wetgewing nakom, stuur die metropolisie die kennisgewings sedert Julie 2010 per gewone pos.
Omdat die Aarto-wetgewing nie nagekom word nie, is dit onmoontlik om te bewys dat ’n boete in die voorgeskrewe tydperk versend is en dat ’n oortreder die boete nie ontvang het nie.
“Indien iemand ’n boete dus te laat ontvang of dalk glad nie ontvang nie, moet hy die volle bedrag betaal (sonder 50% afslag) en is daar geen bewys van wanneer die metro die boete versend het nie.”
Vermaak sê omdat die Tshwane-metropolisie die boetes per geregistreerde pos stuur, kon sy verskeie vertoë namens haar kliënte aan dié metro rig en aanvoer waarom hulle nie vir die ekstra koste verantwoordelik gehou kan word nie.
Adv. Anton Alberts, vervoerwoordvoerder van die VF+, sê motoriste is nie verplig om boetes te betaal wat hulle per gewone pos ontvang nie.
“Die minister van vervoer het dié week op ’n parlementêre vraag erken dit is strydig met Aarto wanneer die kennisgewings per gewone pos gestuur word,” berig
Hilda Fourie. Vermaak sê die regering weet al maande dat die metropolisie nie die regte prosedure volg nie, maar niks word daaraan gedoen nie. “Ek sien dus nie in hoe die minister se uitlating iets gaan verander nie.”
Insp. Edna Mamonyane, metropolisiewoordvoerder, het gister gesê sy ontken nie dat die metropolisie die kennisgewings in die verlede per gewone pos gestuur het nie.
“Ek weet Aarto sê dit moet per geregistreerde pos gestuur word.”
Sy kon nie sê of die metropolisie die kennisgewings steeds per gewone pos stuur nie. “Ek sal by die direkteur moet seker maak.”
Die minister se woordvoerder het nie gister op versoeke om kommentaar gereageer nie.
Wat is Aarto?Aarto, of die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersoortredings, is tans net in Johannesburg en Pretoria van toepassing.
Die instelling van die stelsel in ander dele van die land is reeds telkemale weens administratiewe en vervolgingskwessies uitgestel. Toe die stelsel op 1 April weer in werking moes tree, is dit tot ’n onbepaalde datum uitgestel.
Aarto werk met ’n reeks kennisgewings wat per geregistreerde pos aan die beweerde oortreder gestuur word.
As ’n beweerde oortreder nie binne ’n beperkte tyd reageer nie, word dit verhoog tot die volgende vlak.
As die persoon nooit reageer nie, loop dit uit op die konfiskering van bates, wat verkoop word om die boetes en administratiewe koste te delg.
Oortreders kry ook strafpunte vir elke oortreding. As ’n individu meer as 12 punte teen sy naam het, word sy rybewys vir drie maande opgeskort vir elke punt bo 12.