Beeld

Afrika-fonds in vooruitsig

2012-05-26 00:01
’n Fonds sal gestig word waarin Afrikane wat oorsee woon geld kan terugstuur, is gister besluit op die Afrika-diaspora-spitsberaad in Sandton, Johannesburg.

Meer as $40 miljard word jaarliks na Afrika teruggestuur deur Afrikane wat gaan groener weivelde soek het oorsee, maar steeds hul familie in Afrika onderhou.

Daar is besluit om dié geld te kanaliseer sodat dit vir Afrika tot voordeel kan wees, maar leiers is stil oor hoekom Afrikane sal verkies dat ’n regeringsorganisasie betrokke is as hulle bloot betalings na bankrekeninge kan doen.

Nog ’n fonds word in die vooruitsig gestel wat Afrikane sal help om in Afrika te belê. ’n Databasis word beplan vir Afrikane wat hul vaardighede in Afrika wil terugploeg om te verseker hoogs gekwalifiseerde Afrikane kry werk op die vasteland. ’n Vrywilligersprojek gegrond op die Amerikaanse Peace Corps word ook beplan.

Die beraad se onuitgesproke doelwit was om Nkosazana Dlamini-Zuma, Suid-Afrikaanse minister van binnelandse sake, op die voorgrond te stoot. Sy wil die volgende voorsitter van die Afrika-Unie kommissie in Ethiopië word, maar Jean Ping, huidige voorsitter, veg om dié posisie te behou.

Dlamini-Zuma was die seremoniemeester en het die dansvloer geopen saam met pres. Jacob Zuma, terwyl sy nuutste vrou, Bongi Ngema, toegekyk het.

– Mandy Rossouw


«Terug