Akteurs in die gewraakte video Innocence of Muslims het glo geen idee gehad dat hulle in ’n lasterlike rolprent optree nie.
“Daar was nooit enige sprake van Mohammed, Moslems of enigiets soortgelyk nie,” het Amerikaanse die aktrise Cindy Lee Garcia, wat die ma van profeet Mohammed se aanstaande speel, in ’n onderhoud gesê wat op YouTube gelaai is.
“Ek het die rol van ’n ma gespeel en die titel was Desert Warriors. Dit was veronderstel om ’n fliek te wees wat die lewe 2000 jaar gelede uitbeeld.”
Volgens haar het die teks nooit na die hoofkarakter as Mohammed verwys nie, maar as Master George.
Intussen het die akteurs en die filmspan in ’n verklaring gesê hulle is mislei oor die doel en die inhoud van die film, berig CNN.
Hulle is ontstig oor die manier waarop die dialoog later verander en oorgeklank is.
Lily Dionne, ook ’n aktrise in die prent, het gesê sy was uiters geskok toe sy uitvind dat dit soveel geweld uitlok.
Die gesin van die rolprent se vervaardiger kruip sedert Maandag saam met hom weg.
Nakoula Basseley Nakoula (55), ’n Egiptiese Koptiese Christen en bedrieër wat twee jaar gelede 21 maande tronkstraf opgelê is, is Saterdag laas deur sy paroolbeampte gesien.
Beamptes van die Los Angeles-distriksbalju het Maandag vier lede van Nakoula se gesin – glo sy vrou, twee seuns en sy dogter – uit hul huis begelei na ’n onbekende plek waar hy ook nou skuil.