Die gewilde Binneland-aktrise Lindie Stander is in die psigiatriese eenheid van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg opgeneem ná ’n selfmoordpoging vroeër die week.
Sy het blykbaar haar een bo-arm tot op die been oopgesny.
Haar karakter in dié gewilde Afrikaanse sepie word ook nou uitgeskryf. Elsje en Friedrich Stark, vervaardigers van Binneland, het gister op ’n perskonferensie in Parys in die Vrystaat bevestig hulle het besluit om Stander se karakter, suster Elise, uit die sepie te skryf nadat sy Woensdag in die hospitaal opgeneem is.
Ernst Swart, Binneland se skakelbeampte, het bevestig Stander is ingelig oor hul besluit.
“Ons loop al ’n lang pad met Lindie. Dit was nie ’n maklike besluit om te neem nie. Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie,” het hy gesê.
“Sy besef self sy het hulp nodig en sal hopelik nou die hulp kry.”
Hy het haar as ’n talentvolle aktrise beskryf.
Stander se laaste tonele sal in Augustus uitgesaai word.
Swart kon nie sê wanneer Stander uit Helen Joseph ontslaan sal word nie.
Stander het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met www.voelgoed.co.za openlik oor haar depressie gepraat.
“Op hoërskool het alles my begin inhaal, my pa se selfmoord, die man (Stander se stiefpa) wat my as kind twee jaar lank misbruik het en my laat glo het dis my skuld, en my negatiewe verhouding met my ma.
“Ek het ernstig depressief geraak. Ek het nie uitgehaak met dwelms, drank en so aan nie, net heeltemal onttrek,” is sy aangehaal.
Stander het gisteraand uit haar hospitaalbed gesê: “Ek is nog nie gereed om hieroor te praat nie.”
’n Intrige in Binneland waarin dit aan die lig gekom het dat haar karakter as kind seksueel gemolesteer is, het blykbaar ’n groot uitwerking op haar gehad, berig Amanda de Lange.
“Sy het vir berading gegaan en dit het gelyk asof sy daardeur werk,” het ’n kollega, wat anoniem wou bly, gesê.
“Dit was die ou Lindie wat terug was. Sy was all smiles. Dit is die hartseer ding, ’n mens kan nooit weet nie. Dit is ’n geweldige skok.”
Daar was dié week geen verfilming op die Binneland-stel nie, onder meer om die akteurs die kans te gee om die Nasionale Kunstefees in Grahamstad by te woon.
Van Stander se medespelers in Binneland het gisteraand by Beeld vir die eerste keer gehoor dat sy in die hospitaal is.
Nadia Valvekens, wat die rol van Pippa vertolk, was geskok. “Ek wens haar alles van die heel beste toe en ek sal bid dat sy baie gou volkome herstel.”
Hans Strydom, die sluwe dr. At Koster in Binneland, was eweneens erg ontsteld oor die nuus. “Lindie is een van die sterretjies van Binneland. Ek het so iets nie verwag nie. Ek hoop ons sien haar baie gou weer.”
Lovey Mogapi, woordvoerder van die Helen Joseph-hospitaal, het bevestig Stander word daar behandel.