Dis die vraag wat opgeduik het nadat voorlopige resultate van die tweede voëlatlasprojek minder van dié voëls opgelewer het as die eerste.
Wetenskaplikes is versigtig om te vinnig afleidings hieruit te maak omdat die huidige atlasprojek nog nie genoeg data versamel het om seker te wees nie, maar dr. Andrew Jenkins van die Universiteit van Kaapstad sê die tendens wat gesuggereer word is tog kommerwekkend.
Volgens Jenkins het onlangse navorsing getoon dat die neste van dié spesie in Gauteng en in die suidwestelike hoek van die
Wes-Kaap dalk heelwat yler verspreid is as tevore. In die Karoo is daar egter nog baie neste.
Jenkins sê as dit uit vollediger data tog duidelik word dat die witkruisarende se verspreidingsgebied kleiner word, is daar ’n duidelike probleem.
Prof. Les Underhill, wat aan die hoof staan van die atlasprojek, het deelnemers gevra om veral in die Noord-Kaap meer atlaswerk te doen sodat die prentjie wat dié voëls betref duideliker kan word.
Mnr. André Botha van die Trust vir die Bedreigde Natuurlewe se Roofvoëlprogram het by navraag gesê die getalle van die meeste roofvoëlspesies is steeds aan die afneem.
Die witkruisarende is egter nie een van die spesies waaroor hy die meeste bekommerd is nie. Daar is byvoorbeeld dele in die
Oos-Kaapse berge waar dié voëls se neste binne 2 km van mekaar is.
Hy sê witkruisaasvoëls kom dikwels voor in gebiede wat
moeilik bereikbaar is vir mense wat atlaswerk doen – soos in die berge of op groot stukke private grond in die Karoo.